Die minister van elektrisiteit, dr. Kgosientsho Ramakgopa, se onlangse voorstel dat slimkragmeters in die toekoms verpligtend vir huishoudings in Suid-Afrika moet wees, word nie met ope arms verwelkom nie.
Ramakgopa het op die Nasionale Energiekrisiskomitee (Necom) se vergadering Sondag op ’n vraag van die media gesê dié slimmeters sal in die toekoms geïnstalleer word om kragverbruik buite beurtkrag-ure te beperk en só te help om die kragkrisis op te los.
Samantha Graham-Maré, ’n DA LP en die DA se woordvoerder oor elektrisiteit, het Maandag ’n verklaring uitgereik waarin sy sê die DA vra vir behoorlike openbare betrokkenheid en opvoeding met betrekking tot die slimmeterprogram.
“Eskom se vraagbestuurstrategie, wat die verpligte installering van slim-kragmeters in elke huishouding in Suid-Afrika insluit, verteenwoordig ’n beduidende verandering in benadering om die kwessie van beurtkrag die hoof te bied. Ons erken beurtkrag was ’n taktiek wat deur Eskom aangewend is om elektrisiteitsvoorsiening op grond van opwekkingskapasiteit te beperk. Die installering van slimmeters en die afstandbeheer van geisers wek egter wettige kommer oor privaatheid, beheer en moontlike misbruik.”
Sy sê die DA glo vas nog voordat enige munisipaliteit kan begin om slimmeters aan te bring, moet omvattende openbare betrokkenheid en opvoeding oor die kwessie plaasvind.
“Dit is van kardinale belang dat burgers die doel, funksionaliteit en implikasies van slimmeters verstaan sodat hulle ingeligte besluite kan neem en hul bekommernisse kan bespreek,” het Graham-Maré gesê.
Eskom het vroeër vanjaar gesê hy beplan om oor die volgende vier jaar slimmeters in elke huishouding in Suid-Afrika laat installeer in hul poging om minstens 7 000 MW in die netwerk te behou.