Ná drie jaar van opknapping is Pelikaanpark in Wellington steeds nie reg vir wedstryde nie. Foto: Charl Williams


In 2017 was Wellingtonners in rep en roer oor die nuus dat Pelikaanpark opgeknap gaan word. Maar drie jaar later word steeds geen wedstryde dáár gespeel nie.

Pelikaanpark is een van die oudste rugbystadions in die Wellington-gemeen­skap. Dit was voorheen met sinkplate omhein en later is die sinkplate met beton vervang.

Roses United en Hillcrest United het tot onlangs nog gebruik gemaak van die geriewe op Pelikaanpark.

Daar is begin met ’n muur as omhei­ning, nuwe kleedkamers, ’n nuwe pavil­joen, nog toilette is gebou en selfs twee geboue waar rugbyklubs vergaderings kan hou, is ook opgerig.

Dit is nou drie jaar later en daar kan nog steeds geen wedstryde op Pelikaan­park gespeel word nie.

Paarl Post het Gerald Esau, die uit­voerende direkteur van gemeenskaps­dienste by Drakenstein-munisipaliteit, genader oor die proses rakende die instandhouding van stadions.

“Ons het ’n instandhoudingsprogram wat wissel afhangende van die soort sport­kode waarvoor ons moet voorberei. As dit krieket is, dan begin ons die Maandag om die blad voor te berei, maar as dit by rugby kom, is jou instandhoudingsprogram ’n klein bietjie langer. Ons kan nie voor die aanvang van die rugbyseisoen begin om gras nat te lei nie. Ons moes dit deur die somermaande gedoen het.”

Hy het verder verduidelik die muni­sipa­liteit het met die verskillende sport­liggame vergader oor die instandhou­dingsplan om vas te stel hoe die tuis- en wegwed­stryde gereël kan word sodat die velde nie so swaar dra nie.

Die belangrikheid van noukeurige beplanning met die federasies is ook beklemtoon om instandhoudingprogram­me daar te stel. Oor Pelikaanpark noem Esau daar was baie uitdagings, maar daar gaan nou ’n boorgat gesink word om die veld nat te lei.

Die kontrakteurprobleme is ook volgens Esau opgelos en hulle is nou besig met die oppervlakte en basiese instand­houding­werk om Pelikaanpark reg te kry. Daar is ook volgens hom met die sportkodes wat dáár speel ooreengekom dat die geriewe reg gaan wees met die aanvang van die rugbyseisoen einde April vanjaar.

Daar is ook alternatiewe velde beskik­baar gestel soos Mbekweni-sportterrein wat vir rugbydoeleindes gebruik kan word.

Esau het erken daar is uitdagings met die aantal spanne teenoor die aantal velde wat beskikbaar is. Hy sê die hele Drakenstein se munisipale gebied is ’n “tuisveld” vir spanne wat in die dorp is en hulle dra kennis dat daar ook spanne is wat uitdagings in terme van vervoer ervaar het.

Die munisipaliteit is ook gedurig in gesprek met die verskillende rugbyklubs van die Boland- en Westelike Provinsie-streek. Esau sê sy deur staan oop vir enig­iemand wat vrae het en maan die gemeenskap om eerste na hulle te kom met griewe voordat hulle die media nader.

You need to be Logged In to leave a comment.