PAARL – Die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur (DOI) het die opgradering van ’n 3,8 km lange gedeelte van die R301 tussen die N1 by Paarl en Kliprug-pad voltooi. Die pad is van ’n enkel- tot ’n dubbelbaan omskep.
Die projek, wat in 2022 van stapel gestuur is, was geskeduleer om teen Maart vanjaar voltooi wees, maar het terugslae ervaar, soos berig deur Paarl Post verlede jaar.
Die besluit vir hiérdie opgradering is geneem om die toename in verkeer op die R301 te akkommodeer, het Drakenstein-munisipaliteit tydens ‘n vorige geleentheid verduidelik.
Volgens Jandré Bakker, die DOI se direkteur vir operasionele ondersteuning, is hierdie gedeelte van die R301 oor die grootste deel van sy lengte vyf meter breed en by kruispaaie vernou tot 1,9 meter om voorsiening vir ’n regsdraaibaan te maak.
“Die pad beskik oor ’n 2,8 meter verharde skouer, asook ’n randsteen en waterkanaal oor die grootste deel van die roete. ’n Voetganger-sypaadjie en middelstrook is gebou, en verkeersligte en beligting is geïnstalleer,” het Bakker gesê.
Hy het verder verduidelik dat twee groot stormwatertonnels (culverts) oor nie-permanente riviere verleng is, en een bestaande stormwatertonnel vervang is.
“’n Nuwe stedelike dreineringstelsel is ook gebou om stormwater na die naaste natuurlike afloopkanaal te lei. Inlate en opvangputte is geïnstalleer om in die stedelike stormwaterstelsel in te voed.”
Verkeerskapasiteit by kruispaaie is ook verbeter met ‘n T-aansluiting by die Kliprugpad en die R301 wat gebou is wat die sirkel-aansluiting vervang.
Die totale belegging vir hierdie projek beloop R214,8 miljoen, het Bakker bygevoeg.
Die Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, Tertuis Simmers, het verduidelik dat daar ’n geskuifde aansluiting by Brumbylaan is – die pad wat toegang bied tot die Wildepaarde- en Azalea Acres-ontwikkelings, sowel as die toegangspaaie na Zanddrift en Boschenmeer.
“Die aanvanklike plan was om al hierdie toegangspaaie te konsolideer tot een aansluiting op R301 vir veiligheid en beter verkeersvloei. Tydens konstruksie het die Zanddrift-ontwikkeling egter nog nie begin nie, en sy aanvangsdatum was onseker. Daarom kon bestaande toegange na Wildepaarde en Boschenmeer nie gesluit word nie,” het Simmers verduidelik.
“Die middelstrook en draaibaanuitleg is dus aangepas om hierdie toegange te behou. Die gekonsolideerde aansluiting, soos beplan, sal deur die Zanddrift-ontwikkelaars voltooi word wanneer hul projek van stapel gestuur word,” het hy gesê.
Volgens Simmers het die projek 241 korttermynwerksgeleenthede geskep en is daar is 39 786 werksdae gelewer. Daar is ook R48,5 miljoen bestee aan die verkryging van goedere en dienste van geteikende ondernemings – bykans dubbel die oorspronklike teiken van R26 miljoen.
In totaal het 14 plaaslike ondernemings en ses opkomende kontrakteurs voordeel getrek uit die projek, het hy gesê.
Bakker het aan Paarl Post bevestig dat die volgende fase van die R301-opgraderingsprojek, bekend as fase twee, tans nog in die ontwerpfase is.
Volgens hom vorm hierdie fase deel van die breër R301-ontwikkelingsprojek waaroor daar reeds met die publiek gekommunikeer is.
Bakker het verduidelik dat die DOI dus nie inligting oor die tydlyne, koste of omvang van die projek verskaf nie.
Intussen is bykomende konstruksiewerk ook aan die R45 tussen die Paarl en Franschhoek onderweg wat volgens Bakker eers in Oktober 2026 voltooi sal wees, soos verlede jaar berig deur Paarl Post.





