Musiek het die vermoë om grense te oorbrug, vrede te bewerkstellig en dit voed die siel.
Paarl evening with Opera and Operetta gaan juis dit op Sondag 30 Julie in die historiese gebou van die Hervormde kerk, Paarl om 16:00 bewerkstellig.
Twee bekende plaaslike kunstenaars met internasionale optredes en wonderlike prestasies agter hul name tree saam met twee talentvolle studente van die Universiteit van Kaapstad (UK) op.
Jo-Nette le Kay en Arno Jones is albei bekwame kunstenaars van die Paarl, terwyl Carmen Traut en Dumisa Masoka tans aan die UK studeer, met verskeie optredes agter die blad, onder meer by die Kunstekaap.
Die program sluit in werke van Strauss, Mozart, Verdi, Donizetti, Lehar, Bellini, Sieczynski en Koos du Plessis.
Le Kay het haar skoolopleiding in die Paarl voltooi en dit is ook hier waar sy musieklesse ontvang het.
Sy het haar lisensiaat in sang aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf, haar studies voortgesit en haar nagraadse studies in onderrig en uitvoering aan die UK voltooi.
Le Kay het opgetree in Brittanje, Duitsland en Switserland.
In Londen was sy ’n lid van die Opera Integra and Hampstead Garden.
In Duitsland het sy as solis by die Last Night of the PROMS-konsertreeks saam met Klassik Philharmonie Hamburg in Moorrege, Mehrzweckhalle en in Hamburg se Laeiszhalle-Musikhalle onder die stok van Robert Stehli opgetree.
Hierdie is maar slegs ’n paar van Le Kay se internasionale optredes. Plaaslik doen sy haar eie produksies.
Sy gee tans klas by die UK en het haar eie studio in die Paarl.
Jones is ’n entoesiastiese musikant en ’n bekwame begeleier.
Jones het sy studies aan die US voltooi, waar hy klavier, klarinet, sang en pyporrel gestudeer het. Sy lektore in klavier was Benjamin van Eeden en wyle Juliana de Villiers. Hy het orrelopleiding ontvang van Pieter de Lange, Niel Pauw en Mario Nell. Sangopleiding is gegee deur Magdalena Oosthuizen, Minette du Toit-Pearce en onlangs deur Lauren Dasappa.
Jones was die inoefen-pianis vir onder meer die Spier Somer Fees-produksies van Carmen, Silver Lake en West Side Story. Die US se produksie-begeleiding van onder meer Die Zauberflote, Cosi fan Tutte en verskeie kleiner produksie is deur hom behartig.
Jones het sy BMus-honneursgraad, asook sy optrede-lisensiaat in orrel en sy onderwyslisensiaat in sang behaal.
Hy is tans verbonde aan die Frank Petersen-musieksentrum en begelei verskeie kunstenaars.
Kaartjies is te koop via Webtickets, Quicket, Computicket of by André by 072 658 5168.