Die openbare orde-polisie-eenheid (Pops) in die Kaapse Wynlande het die afgelope paar weke groot vordering gemaak deur misdaad in dié gebied in sy spore te stuit.
Kapt. Basil Seekoei, ‘n woordvoerder vir die polisie in die Kaapse Wynland, het Maandag (20 Oktober) gesê die Boland Pops het onlangs in ‘n poging om misdaad in die distrik uit te roei, vier verdagtes in verband met verskillende misdade in hegtenis geneem. Die verdagtes is tussen die ouderdomme van 31 en 42 jaar. Die inhegtenisnemings is afsonderlik in Ceres, Paarl-Oos en Grabouw uitgevoer.
“Polisielede het die afgelope weke op vier vuurwapens en ammunisie beslag gelê en dit sodoende uit die strate verwyder. Beamptes het ook tik, mandrax ter waarde van R16 000 en ‘n onbekende bedrag geld afgeneem,” het Seekoei gesê.
“Ek is baie trots op die prestasies van my lede,” het kol. Kabous Louw, die Boland-Pops-bevelvoerder, bygevoeg.
“Ons pak misdaad regstreeks aan om ‘n verskil in die Kaapse Wynland-distriksgemeenskap te maak. Dit maak nie saak hoe groot of klein die beslaglegging of inhegtenisneming is nie – ons fokus is om ‘n veilige gebied vir die gemeenskap wat ons bedien, te skep.”

Die aanklagte wat die verdagtes in die gesig staar, sluit in die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie asook dwelmhandel.
Die verdagtes sal in verskeie landdroshowe binne die Kaapse Wynland-gebied, waar hulle in hegtenis geneem is, verskyn.
Die gemeenskap word versoek om enige misdaad by hul naaste polisiekantoor aan te meld of die Misdaad Stop-nommer 08600 10111 te skakel.


