Die openbaredeelnametydperk vir die hernuwing van die omstrede Drakenstein-krematorium se atmosferiese emissie-lisensie (AEL) wat by die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) ingedien is, veral op 28 Februarie.
Die tydperk is deur die KWDM met een maand verleng nadat drukgroepe in die Drakenstein, onder wie Christine Marais, die stigter van die inisiatief genaamd die Wellington Association Against the Incinerator (Waai), om uitstel gevra het.
Hierdie aansoek volg omdat die huidige aansoek, wat slegs die verassing van menslike oorskot goedkeur, op 30 November 2024 verval het.
Die krematorium word sedert 2011 deur die huidige eienaar, Johann van der Merwe, bestuur.
Van der Merwe sê hy verwelkom die uitstel.
“Indien hierdie verlenging tot ’n meer deursigtige en omvattende proses bydra, ondersteun ons dit volledig.”
Jo-Anne Otto, ’n woordvoerder van die KWDM, het bevestig dat die krematorium steeds gemagtig is om verassings ingevolge die vervalde lisensie te doen totdat die ’n nuwe lisensie goedgekeur word.
Die Paarl Post het in ’n aanlynartikel op 11 Oktober melding gemaak van ernstige aantygings teen die Drakenstein-krematorium, wat deur twee betroubare bronne gestaaf is en deur Johan Rousseau, die voorsitter van die vereniging van hervormde begrafnisondernemers (Fira), bevestig is.
Van dié aantygings sluit in dat liggaamlike weefsel, beendere en as op stortingsterreine in die Drakenstein-vallei gestort word, dat honde saam met mense veras word en dat meer as een liggaam op ’n keer veras word.
Hierdie en ander onwettige praktyke het glo tot minstens 2022 plaasgevind.
Rousseau het gesê van die krematorium se voormalige werknemers pak die skuld vir die bostaande aantygings op Van der Merwe.
Van der Merwe ontken dit.
“Ons is bewus van die beweringe, maar verkies om nie op ongegronde spekulasie te reageer nie. Indien enige feitelike bewyse aan ons voorgelê word, sal ons dit ondersoek en toepaslike stappe neem,” het hy gesê.
In die Drakenstein-krematorium se aansoek aan die KWDM sowel as in die kennisgewing wat in November 2024 in twee koerante (Die Burger en Son) gepubliseer is, vra hulle toestemming vir:
- Termiese behandeling van gevaarlike en algemene afval (kategorie 8);.
- verbranding van krematoria- en veeartsenykunde-afval (kategorie 8.2) en;
- verassing van menslike oorskot en troeteldiere (kategorie 8.2).
Volgens vorige kommunikasie met die KWDM moet die krematorium – en so ook ander ondernemings – hul AEL-aansoeke elke vyf jaar hernu.
Die KWDM het verduidelik dat die verbranding van veeartsenykunde-afval (kategorie 8.2) behels om “dieredele of materie soos eiers” te veras, maar “sluit gevaarlike afval soos skerpstukke uit”.
“Gevaarlike veeartsenykunde-afval word geklassifiseer as ’n gelyste aktiwiteit onder kategorie 8.1” van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur vir luggehalte.
Marais, as deel van Waai, asook Johan Rousseau, voorsitter van die Vereniging van Hervormde Begrafnisondernemers (Fira), het gesê die verenigings staan die aansoek vir die nuwe AEL-lisensie teen.
Rousseau het beweer dat die KWDM misluk het in sy taak “om te verseker dat die Drakenstein-krematorium aan die toepaslike wetgewing voldoen”.
Volgens Marais, wat reeds sedert 2010 druk uitoefen om die krematorium te laat sluit, speel Van der Merwe se “politieke bande” binne die KWDM en DA ’n rol in die feit dat die krematorium nie ondersoek word nie.
Van der Merwe ontken hierdie bewering.
“[Die Drakenstein-krematorium] wil [dit] egter duidelik stel dat hierdie verbintenisse nog nooit misbruik is om enige voordeel te verkry of om enige probleem te hanteer nie. Ons optredes word streng volgens wetlike en regulatoriese vereistes bestuur – sonder enige onbehoorlike invloed.”
Die krematorium funksioneer ten volle, sonder enige staatsentiteit wat die krematoriumondersoek.
Die Wes-Kaapse departement van Omgewingsake (Groenskerpioene), het bevestig dat hul ondersoek teen die krematorium afgelas en aan die KWDM vir verdere ondersoek oorhandig is.
Volgens Otto gaan die KWDM voort met “beplande sowel as onbeplande besoeke aan die Drakenstein-krematorium in ooreenstemming met die Wet op Luggehalte en die Wet op Gesondheid”.
Intussen is Fira sowel as Waai en ander individue binne die Drakenstein-munisipaliteit, onder wie die raadslid Stephan Landsberg van die VF Plus, kampvegters vir die sluiting van die Drakenstein-krematorium.
Malixole Gwatyu, ’n kommunikasiebestuurder by Avbob, het ook in Desember 2024 bevestig dat dié begrafnisdiens nie meer die Drakenstein-krematorium gebruik nie en hul lyke elders heen stuur.