Op ’n Stasiefees gaan van krag tot krag

Wanneer dit weer tyd word op Wellington vir die jaarlikse Op ’n Stasie Gemeenskapsfees, is daar soms die een of ander kinkel in die kabel. En vanjaar was dit die stormsterk suidooster wat Vrydag en Saterdag gewoed het.


Wanneer dit weer tyd word op Wellington vir die jaarlikse Op ’n Stasie Gemeenskapsfees, is daar soms die een of ander kinkel in die kabel. En vanjaar was dit die stormsterk suidooster wat Vrydag en Saterdag gewoed het.

Maar Wellington is ’n wonderlike geseënde dorp, ’n omgeedorp. Die woeste wind het dus glad nie die publiek afgeskrik nie en hulle het van heinde en verre gekom om hul ondersteuning te kom gee en saam fees te vier. Uit Kaapstad het selfs ’n trein vol mense ook gekom.

Dit is die vierde keer dat die fees aangebied is, en afgesien van die reuse-melktert, probeer die organiseerders elke jaar om iets nuuts ten toon te stel.

Vanjaar het hulle nie teleurgestel nie. Met die aankoms by die perseel, was die bekende uitsaaiwa van Bok Radio duidelik sigbaar vanwaar hulle regstreeks vanaf die fees uitgesaai het.

Die Stasiefees het vanjaar reeds op die Donderdag afgeskop met ’n gholfdag ten bate van die beoogde meerdoelige nagskuiling wat op Wellington beplan word.

’n Bedrag van R20 000 is oorhandig aan Danie Nel, die skepper van die G-Voucher-projek wat die meerdoelige nagskuiling insluit.

Die gholfdag het in ’n wonderlike gees op die Wellington-gholfbaan plaasgevind. Oudrugbyspeler en aanbieder van Toks en Tjops op kyk­NET, Toks van die Linde, was die hooftrekpleister by die gholf. Na afloop van die dag se spel het Karin K die gaste in ligte luim geplaas. Toks van der Linde het ook nie op hom laat wag nie, en het self ’n mikrofoon gegryp en saam met Karin Country Roads gesing.

Vrydagaand se verrigtinge het ’n stampvol tent by die Vroulike Vrolikheid met Susan Coetzer opgelewer. Susan Coetzer se tema was “Koeke en Terte”. Ander kunstenaars het ook opgetree en die gaste vermaak met pragtige sang. ’n Aanbieding met idees vir die herwinning van weggooi-artikels en hoe om hul te verwerk in herbruikbare artikels is gedemonstreer.

Tydens die Vroulike Vrolikheid is daar gebie op koeke en terte geskenk deur twee van die dorp se tuisnywerhede. Die kollekteblikkies en die koeke en terte het saam R7 181 ingebring wat uiteindelik verdubbel is deur Danie Nel.

Die Manne Marakas by die wyntuin het gesorg vir groot joligheid onder die manne met die gasspreker Jurgens Schoeman van Live the Journey.

Saterdag het die Stasiefees afgeskop met ’n optog deur die strate gelei deur ’n helder oranje veteraan- Mini, ’n silwergrys Mini en ’n statige wit en swart 1948 Chev.

Die reuse-melktert was weereens ’n wenner. Nadat dit uiteindelik gesny is, het die stukke melktert behoorlik gevlieg.

Ons Op ’n Stasie-gemeenskapsfees is weliswaar nie die grootste fees nie, maar die wonderlike gees en gemoedelike atmosfeer wat daar geheers het, maak dit ’n baie spesiale en uitsonderlike gemeenskapsfees.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.