Die oorsaak van ‘n brand by die New Rest- Egoli- informele nedersetting, wat die lewe van ‘n 52-jarige vrou geëis en nagenoeg 1 000 mense dakloos gelaat het, is steeds onbekend.
Die polisie moes ingeroep word nadat ‘n brandbestryder glo met ‘n mes aangeval is.
Humanitêre hulp uit verskeie oorde het Sondag (6 April) na dié informele nedersetting ingestroom nadat minstens 200 strukture in die brand vernietig is. Die brand het omstreeks 00:30 uitgebreek en is eers teen 05:00 Sondagoggend in bedwang gebring.
Die vlamme is glo aangehits deur sterk wind wat daardie nag in die gebied ervaar is, het die Drakenstein-munisipaliteit in ‘n verklaring gesê.
Volgens die munisipaliteit was sy branddienste “binne enkele minute” op die toneel.
“Die hulp van die Stellenbosch-munisipaliteit se branddienste is toe ingeroep, wat 30 minute later opgedaag het. Altesaam vyf pompwaens en drie veldbrandvoertuie was op die toneel,” lui die verklaring deur die munisipaliteit.
Bewerings het egter op sosiale media die ronde gedoen dat die eerste munisipale brandweerwa met feitlik geen water nie opgedaag het.

Kol. Johan Barkhuizen, die bevelvoerder van die Wellington-polisie, het by navraag gesê ‘n nadoodse ondersoek is geopen nadat ‘n 52-jarige vrou doodgebrand het.
Die munisipaliteit het sy medelye aan die vrou se familie betuig.
Die munisipaliteit het sy teleurstelling uitgespreek oor lede van die gemeenskap wat glo ‘n brandbestryder met ‘n mes gesteek en een van die brandweerwaens se pype gesny het.
Luidens ‘n boodskap op ‘n plaaslike nooddiens-WhatsApp-groep is die brandbestryder deur familielede van die toneel af weggeneem.
Volgens die munisipaliteit moes hy die hulp van die polisie inroep om brandbestrydingpogings veilig voort te sit.
Die uitvoerende burgemeester en stadsbestuurder het Sondagmiddag ‘n gesamentlike besluit geneem om dadelik ‘n noodfonds na afloop van die tragedie beskikbaar te stel. Die munisipaliteit het ook Gift of the Givers bedank, wat enkele ure ná die brand humanitêre hulp gelewer het.
Ali Sablay van Gift of the Givers sê hulle is telefonies deur Chris Nissen, kommissaris van die Menseregtekommissie, oor die brand verwittig.
Die tragedie volg presies ‘n jaar nadat verwoestende wind op 6 April 2023 oor die Drakenstein heen ervaar is.
Tydens daardie storm is altesaam sewe huise en ‘n aantal informele strukture in Smartietown in Paarl-Oos in puin gelê.
Die wind het daardie naweek ook by ander private eiendomme in die vallei verwoesting gesaai.
You must be logged in to post a comment.