Een van die twee geboue wat by die Mountain Shadows-gasteplaas in die Paarl afgebrand het.


Toe ’n aggressiewe brand, aangehits deur stormsterkte wind, Sondagoggend (7 April) die gasteplaas Mountain Shadows in die Paarl tref, kon die eienaar net hulpeloos toekyk en totsiens sê vir die historiese geboue.

Kim Kolb, wat die gasteplaas saam met haar gesin besit, sê dit was ’n aaklige ondervinding. Toe sy ná 04:00 sien hoe die brand nader kruip aan hul eiendom langs die Keerwederpad, aan die voet van Du Toitskloof, het sy die geboue een vir een begin groet.

“Ek en my gesin woon in die herehuis. Ek het vier kinders. Ons het ná 04:00 wakkergeskrik. Ons het huurders in al die geboue op die gasteplaas en almal was gelukkig by die huis. Ons het ons gehaas en het almal wakker gemaak en in kennis gestel van die brand wat naby die plaas is. Hulle het binne 10 minute hul voertuie gepak en woon nou by vriende. Daarna het ek die herehuis gegroet.

“Drakenstein-plaaswag (DFW) was binne minute met al hul bemanningslede op die toneel. Brandbestryders van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit en die Drakenstein-munisipaliteit het kort daarna by hulle aangesluit. Ek dink daar was uiteindelik sowat 50 brandbestryders. By elke gebou was ’n brandweerwa en ’n bakke. Hulle het daarin geslaag om die herehuis te red, wat in 1823 gebou is en 201 jaar oud is, maar ons het ongelukkig twee ander huise verloor.

“Ek dink as ons nie DFW- en Kaapse Wynland-spanne gehad het wat vinnig reageer het nie, sou ons nie ’n plaas gehad het om op te staan nie. Dit was hel; dit was verskriklik.”

Ten spyte van wat hulle in die brand verloor het, sê Kolb hulle is dankbaar en verlig dat niemand beseer is nie. Hulle het Dinsdagoggend (9 April) begin opruim.

“Ons hou kop bo water. Ons is besig om skoon te maak. Die brand het as gevolg van die sterk wind deurgekom en die plaas bereik. Die brand het deur die plaas getrek en ons het baie verloor. Hier is groot skade veroorsaak.

“Ons het ons wyne verloor, ons olywe en twee huise. Die huise wat afgebrand het, het ons verhuur. Dit was gelukkig nie historiese geboue nie.

“Ek weet nie presies waar die brand begin het nie, maar dit het glo onder die [N1] brug begin. Ek het gehoor dat kraglyne onder die brug afgebreek en aan die brand geslaan het en toe het die wind die res gedoen. Ek kon die inligting nie bevestig nie.”

Verlede jaar toe verskeie gebiede in Drakenstein deur oorstromings as gevolg van swaar reën getref is, was daar ook erge verspoelings by Mountain Shadows, veral toe ’n gedeelte van die pad verspoel het. Tog sê Kolb was dit nie so erg soos die afgelope naweek se stormweer nie.

“Ons het toe geen windskade gehad nie. Ons het nog nooit so baie skade soos nou gehad nie.

“Ons moes in Junie verlede jaar die plaas vir drie weke sluit toe die oorstromings plaasgevind het. Andersins het dit goed gegaan met ons.

“Ons het reeds in 2020 brande gehad. Ons het dieselfde brandbestrydingspanne hier gehad en hulle het daarin geslaag om die plaas heeltemal te red.

“Maar met die swartsuidoostewind het selfs my bure, wat hul hele lewe lank hier is, gesê hulle het nog nooit so ’n wind beleef nie.

“Ek wil graag my gebede en my gedagtes stuur aan almal wat baie meer as ons verloor het.”

Kolb sê die geskatte waarde van alles wat hulle verloor het is nog nie bereken nie, maar dat die assessor van die versekering Dinsdag op die plaas was om ontledings te doen.

Dereck Peceur, Drakenstein se hoofbrandweerbeampte, het by navraag sê die munisipaliteit se brandweerdienste is om 04:58 in kennis gestel van ’n brand onder die N1-brug, waar ’n voertuig die vorige aand afgeval het.

“Met die brandweerdienste se aankoms is vasgestel dat ’n brand op plase op die Keerwederpad in die Paarl woed. Hierdie brand is erg deur die stormsterkte wind aangehits, en verskeie strukture is bedreig.

“Noodontruiming van nabygeleë huise is gedoen, en sowat 10 strukture is in die brand en wind verwoes.

“Niemand is in die brand beseer nie.

“Die brand is teen 11:00 in bedwang gebring.

“Die oorsaak van die brand by die plase op die Keerwederpad is beskadigde elektriese drade.”.When an aggressive fire, fueled by gale-force winds, hit the Mountain Shadows guest farm in Paarl on Sunday morning 7 April, the owner could only watch helplessly and say goodbye to the historic buildings.

You need to be Logged In to leave a comment.