My skoonma, wat eintlik ’n vrolike siel was, het by geleentheid op ’n ander stasie beland. Dit was soos die eertydse kortgolfradio. Die uitsending was onduidelik en plek-plek net ’n kakofonie. Ek het egter gesnap wat dié verkeerde frekwensie by haar veroorsaak het.
Die prentjie was so: Vir ’n oënskynlik onbekende rede was niks goed en reg op dié dag nie. Netjies aangetrek en mooi versorg, soos altyd, het sy die dag ingestorm. Ek was verstom dat ’n kleinerige mens met ’n nommervyf-skoentjie so donderend hard deur ’n huis kan stap; voel my met elke voetneersit praat sy driftig met niemand in sig nie en gebruik soms grofgeskut ook. Praat definitief met haarself, maar in die kleinkinders se woorde, opgesaaik en op soek na die een wat haar nuwe dag iewers tussen die vorige aand en ontbyt befoeter het.
Is net ek wat daar is, want Dries en pappa het die atmosfeer gelees en vroegtydig verkas. Met Anneries Thys, Willem Mienies, ons twee seuntjies agterop die bakkie en vleis vir braai, het hulle iewers op die 13 000 hektaar plaas verdwyn. Ek, die Aangenaaide Lap, soos wat Fatso, Dries se anoreksiese niggie, my genoem het, was dus ’n verpligte toeskouer van die eenmansvertoning.
Ek het geswyg. Vir my, noggie eens dertig nie, was stilbly nie my defaultmode onder sulke omstandighede nie. Ek het egter vinnig iets geleer uit die tirade en ek kon tussen dit alles iets snaaks vind om agterna oor te lag – dit alles terwyl ek ewe Godsalig (my ma se uitdrukking) op die voorstoep sit en niks toe die gebeurtenis my tref.
“Liewe Hemelse Vader, Servaas maak my boosaardig kwaad. (Servaas is my skoonpa se doopnaam en haar geliefde man.) Die man het mos ’n vrysê oor almal en dié dat hulle dit verduur, beteken nie dat ek een van hulle is nie. Ek het immers baie meer letters gevreet as hy, maar hy moet mos altyd die laaste sê hê!” Sy was ’n onderwyseres en hy het altyd gesê hy het net geleer tot daar waar die swart kat dwars in die boek sit.
Sy oortreding wat haar so ontstel het, het ek gelees in die woedegesprek van die grief of twee wat sy nog oorgehad het: “En dan moet ek op die verdomde ou eensame plaas bly. Om hier uit te hou, moet ’n mens moed soos dié van ’n bees hê. Ek het hom help werk om te kom waar hy is – my skoolhou-tjek elke maand agterop geteken en net so vir hom gegee. Ek het g’n belang by die boerdery nie. Ek wil oppie dorp gaan bly en soos julle ook net knoppies druk vir alles. Hy gaan gereeld huise kyk en dis waar dit bly.”
Toe haar batterytjie pap is, is Chrissie en Marta, die twee Nama- huishulpe, gereed met ’n skinkbord gedek met die mooi Duitse porselein en silwer en die lekker gebak van die Duitse bakkery op die dorp. Dié was pappa se plesier te koop en te bêre in die mooi glaspotte op die side board in die voorportaal. Soggens half-elf en namiddae half-vyf was altyd teetyd met koekies, soos mamma gewoond was in haar grootwordjare in die Oos-Kaap.
Ek het gekyk na die mooi van die natuur, haar mooi tuin en al die mooi goed waarmee sy omring is en hom verstaan soos sy nie het nie.
Ek was jammer vir haar. Hy wou en sal nooit van die plaas af dorp toe trek nie. Om te wat daar?
Daarom ry hy en gaan kyk huise en was sy lank tevrede, tot op een goeie môre: “Servaas, ek is nakend. Ek het vanmôre niks om aan te trek nie.” “Maar hemel, Liefie, ek het dan nou die dag op Upington vir jou drie-honderd pond gegee vir klere. Servaas, dis lank gelede. Die goed is almal halfslyt gedra.”
Sommer gou-gou gaan kuier hulle vir broer Anneries en Jan op Keimoes. Kyk sommer daar na ’n aftreehuis en die drie skoonsusters gaan in Upington op ’n shopping spree by Lenhoff.
Ná ’n week se vakansie-kuier is almal prens en vrede en dis weer die langpad terug Suidwes toe na die verdomde ou eensame plaas.
Ons pa’s het nie eiendom gekoop en afgetree op hul tuisdorpe nie; wel gehuur vir oorbly soos nodig. Alhoewel min letters gevreet, was hulle slim.
Die eens groot en vooruitstrewende dorpe met goeie skole, ’n hospitaal, dokters, apteke, garages ens. is soos oral in die land waar die ANC aan bewind is, in die grond in bestuur en vervuil van lae karakters.
Wat is die kans dat die RNE die ingesteldheid van die massa inwoners sal verander en dus dinge verbeter? Makie saak hoeveel letters hulle gevreet het nie – steel, verkrag en moord bly die nasionale sport. Gayton McKenzie kan ’n nuwe Spotprys uitloot.
Ek is dankbaar dat ons ouers wat gehelp het om die land op te bou, reeds saliger is.