Sionisme
Die brandseisoen het in die Wes-Kaap aangebreek en daarmee saam die gevaar van brande in die Drakenstein-vallei, wat vermoedelik deur godsdienstige groepe veroorsaak word. Foto: Argief

Die brandseisoen het aangebreek en daarmee saam die gevaar van brande in die Drakenstein-vallei, wat deur godsdienstige groepe veroorsaak word. Plase op die hange van die Du Toitskloofpas is elke somer op hul hoede om hiérdie soort brande te voorkom, met – volgens ‘n plaas- eienaar – min bystand van plaaslike owerhede.

‘n Boer, wat reeds lank in Donkerkloof op die hange van die pas boer, se plaas het reeds twee keer afgebrand – in 2017 en weer in 2020. Volgens hom is die algemene vermoede dat die brande deur godsdienstige groepe, wat onwettig in die berg vuurmaak, veroorsaak is, maar dit kan nie bevestig word nie.

Die boer, wat anoniem wil bly, vertel dat hy die Wes-Kaapse regering oor die kwessie gena- der het, maar geen terugvoer ontvang het nie.

Volgens die bron wil hulle die situasie aan die groot klok hang voordat nog skade aangerig word – nie net op hul plaas nie, maar op die bergagtige gebiede in die vallei, wat CapeNature bestuur.

Die boer is van mening indien die godsdienstige groepe, wat bekendstaan as Sioniste en waaroor Paarl Post reeds in 2023 berig het, in hul spore gestuit kan word, dit die plaaslike owerhede geld sal spaar omdat brande verhoed sal word.

LEES OOK: WATCH | Religious practice the cause of many of Du Toits Kloof’s mountain fires

Volgens die bron betree sangoma’s ook gereeld die bergagtige gebiede naby Donkerkloof om rituele uit te voer.

Die boer voeg by dat daar verskeie oplossings vir dié probleem is, maar een blyk te wees om ‘n wag by gewilde plekke te plaas, wat die godsdienstige groepe of sangoma’s kan verhoed om die gebied te betree en onwettige vure te maak of kerse aan te steek.

Van kerse tot hoenders

Die bron sê brandbestryding kos die Wes-Kaapse regering sowel as die Kaapse Wynland- distriksmunisipaliteit (KWDM), wat op bergbrande in die Wynlande reageer, elke jaar miljoene rande en die uitgawes op só ‘n wyse verminder kan word.

Volgens die boer het die betrokke godsdienstige groep sy plaas al ‘n paar keer onwettig betree, waarna hy met die hulp van private veiligheidsdienste sowel as die polisie die mense kon verwyder.

Maar wanneer die mense die bergagtige gebiede, wat CapeNature bestuur, onwettig betree, is dit moeilik om plaaslike ower- hede om hulp te kontak.

Hy vertel dat die godsdienstige groepe, wat dikwels in wit drag geklee is, selfs een keer ‘n hoender in een van die fonteine op sy plaas waaruit hy sy drinkwater kry, “geoffer” het.

Paarl Post het voorheen berig dat die godsdienstige groepe bergagtige gebiede betree waar hulle vure maak om kos gaar te maak of as ‘n bron van hitte.

Die Sioniste steek ook kerse as deel van hul geloofsgebruike aan. Wanneer hulle die gebied

verlaat, laat hulle egter die brandende kerse, wat in die grond geplant is, agter, waarna die vlam deur die wind versprei word of die kers per ongeluk op flora val.

Luke Folb, ‘n woordvoerder van CapeNature, het bevestig dat die organisasie bewus is van die godsdienstige groepe wat veral die Limietberg-natuurreservaat onwettig betree.

Sionisme
Drie kerse in ‘n bergagtige gebied, met een wat steeds brand, is onlangs deur die Drakenstein-plaaswag afgeneem. Dit is vermoedelik daar deur ‘n godsdienstige groep agtergelaat. Foto: Verskaf

“Hierdie groepe gaan waar hulle wil, op die grootste deel van die N1 wat deur die Limietberg-natuurreservaat loop. Hulle maak vure wat buite beheer raak en soms word hierdie brande nie geblus nie, wat lei tot wegholbrande. Die aantal vure langs die [Du Toitskloof]pas kan toegeskryf word aan mense wat die reservaat onwettig betree. Die probleem strek tot by die Rawsonville-kant van die pas.”

Folb bevestig ook dat godsdienstige groepe kerse laat brand.

Gesprekke met godsdienstige en kultuur-groepe

“Gegewe die wisselvalligheid van die ontmoetings met die groepe wat CapeNature-personeel dreig wanneer hulle probeer om hulle uit die natuurreservaat te verwyder, het CapeNature ‘n multidissiplinêre benadering gevolg deur saam met verskeie belanghebbendes (die Suid-Afrikaanse Polisiediens, wetstoepas- sers, die departement van binnelandse sake en die Wes-Kaapse regering) te werk om te help om hierdie uitdaging en risiko te bestuur,” sê Folb.

LEES OOK: Cape Winelands steps up fire readiness with newly trained protectors

“Tans doen CapeNature-personeel oor naweke patrollies en ons sal voortgaan om proaktief saam met ons vennote te werk om gesamentlike optredes uit te voer, gedragsverandering aan te moedig en die boodskap by die publiek uit te kry. Gesamentlike optredes en aktiewe patrollies sal voortgesit word, gegewe die omvang van die gebied en ander dringende take wat deur CapeNature-personeel uitgevoer word. Verdere ondersteuning van die openbare sektor tot die private sektor is nodig om hierdie uitdaging uit die weg te ruim,” sê Folb.

Jo-anne Otto, ‘n woordvoerder vir die KWDM, het bevestig dat die KWDM “saam met CapeNature en die Winelands-brandbeskermingsvereniging (FPA) voortgaan om bewustheid te skep oor die gevare van brande en veral oor vure in gebiede waar geen geriewe bestaan nie. Gesprekke is ook met godsdienstige en kulturele groepe gevoer om verantwoordelike en respekvolle gedrag te bevorder.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 4 December 2025
    Paarl Post – E-edition – 4 December 2025

Gift this article