Die meeste mense kies stokperdjies soos branderplankry of om ou kameras te versamel, maar ’n Wellingtonner vind egter vreugde in vetplante en kaktusse.
Braam van Zyl, ’n tafeldruifplaasbestuurder in Agter-Paarl, versamel sy lewe lank al dié vergewensgesinde plante. Soos hy deur sy kwekery loop, wys hy die verskillende plante uit wat die ongeleerde oog nie sommer sal kan uitken nie.
En moenie ’n fout maak nie, daar is ’n verskil tussen kaktusse en vetplante: Kaktusse het dorings en kom in die sentrale dele en in die suide van die Amerikas voor en vetplante is inheems tot Afrika en het nie dorings nie.
Braam weet self nie hoeveel verskillende plantspesies in sy persoonlike versameling is nie. Dié word by sy restaurant en kwekery, Ou Kaya Padstal op die R44-Hermonpad, saam met ’n groot verskeidenheid plante wat te koop is, uitgestal. Sy kosbare versameling is egter nie te koop nie. Hy en sy vriendin, Julene Basson, het die padstal nege jaar gelede begin en sy bedryf dit in die week. Dié winkeltjie het volgens Braam al vir hom menige vriendskappe laat aanknoop.
Braam vertel hy het die kuns van vetplant- en kaktusonderhoud by sy pa, Freddie van Zyl, geleer. “Ek leer al oor vetplante en kaktusse vandat ek my verstand gekry het,” vertel hy. Sy oudste kaktus is 45 jaar oud.
Braam het in Agter-Paarl grootgeword waar sy pa ’n plaasbestuurder by ’n plaas in Wellington was. Hy sê boerdery is sy eerste liefde, maar soms gee ’n naweek by sy plante hom die nodige hupstoot vir die volgende werksweek. “Dit is vir my so lekker om my naweke hier deur te bring,” sê hy.
Hy sê ook Wes-Kaapse inwoners het ’n kopskuif gemaak teenoor vetplante en kaktusse met die afgelope jare se droogtes. “Mense het al meer vetplante in hul tuine begin plant omdat dit met soveel minder tevrede is,” het hy gesê.
Braam is in die dorp bekend onder vetplantentoesiaste omdat hy vrygewig is met raad.
Hy sê droogteplante kan ’n bekostigbare manier wees om jou tuin op te kikker in gebiede waar water skaars is. “Die pryse van die plante hang maar af van aspekte soos swak ontkieming en aanvraag,” vertel hy, maar bly by sy mening dat ’n mense nie ’n fortuin hoef te betaal nie.
Hy sê droogteplante moet nooit “nat voete” hê nie omdat dit die wortels laat vrot. “Kaktusse hou van hitte en baie son waar vetplante nie direkte, warm sonlig tussen 12:00 en 15:00 geniet nie,” vertel Braam en beklemtoon dat hul bakkies ’n gaatjie vir dreinering moet hê.
Braam se padstal en kwekery is elke dag van 08:00 tot 17:00 oop vir besoekers.


