Ek lees onlangs op Netwerk 24 twee berigte wat spreek van absolute teenpole tekenend van die huidige diskoers in Suid-Afrika.

Die eerste is die verhaal van ’n klomp oproerige studente wat die biblioteek van ’n universiteit omverwerp en in ’n chaotiese toestand agterlaat omdat hulle kwansuis ontevrede is oor die soort boeke wat in die biblioteek gehou word.

Die tweede berig gaan oor ’n professor wat oorlede is en wie se reuseversameling boeke nou as ’n nalatenskap bewaar gaan word.

Aan die een kant die bewaring van ’n boekeskat en aan die ander kant ’n poging om ’n soortgelyke skat te vernietig.

Nadat ek verlede jaar ’n klomp boeke moes wegmaak toe ons afgeskaal en na ’n kleiner huis getrek het, het ek nou nog sowat 500 oor – my eie klein biblioteek. ’n Mens bou dikwels ’n emosionele band met jou boeke, en dit was vir my ’n nagmerrie om soveel boeke te moes wegmaak.

Boeke is swaar en dit was nogal ’n gewigtige deel van ons trek. Selfs die meubelvervoermaatskappy se werkers het gesweet om soveel bokse boeke na die boonste verdieping van ons nuwe woonplek te dra.

Die afgestorwe professor se boekery was egter in heeltemal ’n ander liga. Om sy versameling van bykans 9 000 boeke na hul nuwe tuiste te vervoer, is dit in 149 bokse verpak, wat saam meer as vier ton geweeg het.

Die meeste mense sal wonder wat enige mens nou met so baie boeke wil maak. Hy kon tog seker nie almal gelees het nie?

Volgens die woordeboek staan ‘n liefhebber van boeke bekend as ’n “bibliofiel”, terwyl “bibliomanie” verwys na ’n oordrewe sug om boeke te versamel. Waar die skeidslyn tussen die twee lê, weet ek nie mooi nie.

Wat my eie boeke betref, het ek vir seker ook nie almal deurgelees nie. Wanneer ek egter ’n artikel skryf en my gedagtes lei my in ’n sekere rigting waarvan ek nie die detail ken of kan onthou nie, is dit baie gerieflik om dit gou in die regte boek te kan naslaan. Ek weet ten minste waaroor elke boek se inhoud handel indien ek dit sou nodig kry.

Maar hoe gebeur dit dat ’n mens so ’n groot boekery opbou? Party mense sal wonder hoekom Google ’n mens nie sommer net as jy iets wil weet nie? Ongelukkig het Google ook maar sy beperkings, en dikwels is van die inligting wat ek benodig nie op Google te vinde nie.

Op skool was ek nie lief vir lees nie. Later jare het ek besef dat op skool van ons verwag is om fiksie te lees, en ek is nie lief vir stories lees nie.

Ek stel egter baie belang in uitnemendheid in die sakewêreld, die bestuur van mense en om mense in die regte loopbaan te sien wat by hul persoonlikheid en talente pas. Wat is die geheim dat een onderneming baie suksesvol is terwyl ’n ander sukkel of selfs sy deure moet sluit? Oor sulke en ander nie-fiksie-onderwerpe kan ek my ure in boeke verwyl.

Bitter min boeke oor sulke onderwerpe is egter in biblioteke te kry, en aan die ander kant moet ’n mens bybly met die nuutste ontwikkelings in jou belangstellingsveld.

Van die eersgenoemde professor se boeke word berig dat volgens die datums wat voor in sy boeke geskryf is, hy die meeste van sy boeke binne ’n jaar nadat dit die eerste keer gepubliseer is, gekoop het.

Daarom, naas pizza- en biltongwinkels is boekwinkels vir seker my gunstelinge. Ek loop nie maklik by een verby nie – nuut of tweedehands. Dit bring egter mee dat ’n mens voortdurend gekonfronteer word met die feit dat jou boekrakke al wéér te min is. Boeke is ook nie iets wat ’n mens maklik weggooi nie; boeke is geneig om permanente inwoners in jou huis te word.

In ’n onlangse artikel het prof. Wilhelm Jordaan sy trek en boeke-minder-maak-belewenis soos volg beskryf: “Elke boek het ’n siel – die siel van die een wat dit geskryf het en die siel van elkeen wat dit gelees, daarmee saamgeleef en daarin gedroom het.” Hy vertel met die afskaal en boeke minder maak het iemand hom gevra “Hoe vorder dit met die trekkery?” Sy antwoord was “bladsy vir bladsy”. “Want hoe neem jy afskeid van so baie boeke, néé, ‘vriende’, van so baie jare?”

Dink ek aan die studente wat die biblioteek verniel het, wonder ek of hulle regtig wil studeer, en hoekom hulle ander studente die geleentheid om te studeer, wil ontneem?

Dink ek aan die professore en hul boekerye, was en is hulle waarskynlik wyse mense met baie kennis en insig wat ek graag sou wou ontmoet het.

My wens is dat elke mens ten minste ’n deeltjie van die skat en die siel van die woorde wat in ontelbare boeke opgesluit lê, sal ontdek.

(David Malherbe is ’n vryskutskrywer)

You need to be Logged In to leave a comment.