Die Drakenstein-munisipaliteit se reaksie op klagtes oor die toestand van die geriewe by die Dal Josaphat-stadion spreek van onkunde, onbevoegdheid, minagting vir Paarlse rugbyklubs en hul ondersteuners, en arrogansie.

Weet Eda Barnard, die waarnemende uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, ooit waar die Dal is? Was sy al self op die Dal? Nog nooit nie, te oordeel na haar reaksie in verlede week se artikel in Paarl Post. Die antwoord is so ver verwyder van die waarheid – dis lagwekkend.

Die munisipale bestuurder, dr. Johan Leibbrandt, het glo ’n instelling begin wat hy ’n Goya (get off your arse) noem. Dis nou wanneer amptenare ’n ondersoek ter plaatse doen om hulle eerstehands te vergewis van wat in die munisipaliteit aangaan.

Dis tyd dat hy, Stephen Korabie, die nuwe uitvoerende burgemeester; me. Barnard; Lorenzo Arendse, burgemeesterslid vir sport, ontspanning, kuns en kultuur; en Yvette Tsolo, bestuurder vir sport en ontspanning, ’n dringende Goya op ’n Saterdag by die Dal kom doen.

Wat hulle sal sien, is dat Paarlse mense fanaties oor hul spanne is, maar ook:

1. Stukkende, gevaarlike sitplekke. Mense bring maar hul eie stoele saam pleks van die gevaar te loop om beseer te word op die vrot houtbanke wat al lankal verby hul vervaldatum is.

2. Skokkende, morsige toiletgeriewe by die rugbyvelde (wat byna altyd buite werking is). Mans en vroue moet dieselfde klein opslaanhokkie gebruik en mans moet maar mooi staan om hul privaatheid te beskerm wanneer hulle water afslaan. Me. Barnard se stelling dat die rugbykode mobiele toilette moet huur, is verregaande. Die kode betaal vir die gebruik van die Dal, dus is die eienaar – die DM – verplig om toe te sien dat sy geriewe werk. Sy is reg dat daar werkende toilette is, maar dis ongerieflik ver van die rugbyvelde. Hoekom sloer die DM met die herstel van die toilette wat vir rugbytoeskouers bedoel was?

3. Swak kleedkamergeriewe, wat in ’n modderbad ontaard namate meer spanne dit gebruik, is ’n gevaar vir die spelers.

4. ’n Diep sloot langs die B- en D-veld, wat al lankal toegegooi kon word. Rugby is ’n wintersport en ’n mens kry die baljoggies jammer wat die balle uit daai nat sloot moet “vis”.

Die DM wil nou ’n omheinde, geplaveide parkeerterrein buite die Dal oprig. Dis goed en wel, maar bestee eerder daardie geld op die opgradering van die toilette, kleedkamers en sitplekke.

Hulle kan ophou om ons sukkelende rugbyklubs van derduisende rande te beroof met hul onredelike eise vir event plans. Die WP Rugbyunie het dit op ’n vergadering met rolspelers duidelik gemaak die Kaapse klubs wat onder die Stad Kaapstad val, dit nie invul nie.

Hoekom moet die DM agter wetgewing skuil om ons rugbyklubs se lewe moeilik te maak? Rugby is ’n wapen wat ons gebruik om jongmanne uit die kloue van bendelede te hou en die DM moet ons ondersteun en nie teenstaan nie. Dit voel asof die DM rugby op elke moontlike wyse wil ondermyn – al Lorenzo Arendse se mooi woordjies ten spyt. Maar, nou-ja, hy is ’n tipiese politikus wat net mooi broodjies bak.

As die DM wil wys hy gee om vir rugby, sal ons binnekort daai Goya sien en sal die Dal se geriewe binnekort die opgradering kry wat dit so broodnodig het . . .

Komaan, DM, ’n stad van uitnemendheid makeer uitnemende geriewe!


Rugbymal,

Paarl

You need to be Logged In to leave a comment.