Die afgelope taxi-staking kring wyer uit as waarvan ons met die eerste oogopslag bewus geraak het en het weer eens ’n spoor van vernietiging en gevolglike skade agtergelaat. Dit is moeilik berekenbaar in terme van skade vir die ekonomie en SA se beeld as veilige bestemming vir toeriste, asook nuwe beleggings wat werkskepping en welvaart in ’n reeds brose ekonomie moet verseker.
Plaaslike sakeondernemings in die Drakenstein het hul geboue by brandpunte as voorsorgmaatreël gesluit. Dit alles lei tot skade.
Aflewerings kon nie plaasvind nie en die verlies aan sake en lone was weer eens aan die orde van die dag. Twee van ons gewilde konsessie-uiteet-restaurante se verlies kom op ongeveer R500 000 te staan, en dan het sy werkers ook lone ingeboet ter wille van misdadigers se intimidasie en afdreigemente.
Die vraag word nou deur betrokkenes gevra of die polisie in staat is om landsburgers en hul eiendom te beveilig. Hulle is verder van mening dat daar geen sigbare polisiëring was nie en die vraag word gevra of dit nie nou tyd is dat ondernemings en inwoners self verantwoordelikheid vir hul eie beveiliging moet neem nie.
Gebaseer op die WhatsApp-boodskap wat die kommunikasie-afdeling van die polisie op Maandag 7 Augustus uitgereik het, was daar geen plaaslike voorvalle van geweld en intimidasie in Paarl-Wes nie, en was hul spanne deurentyd beskikbaar om brandpunte te ontlont. Die polisie het tersaaklike inligting op Facebook gekommunikeer en moes vure doodslaan om sensasiewekkende vals nuus, wat oral op sosiale media uitgepeul het, hok te slaan.
Volgens die ondernemings wat geraak is, voel hulle nou hulle is uitgelewer aan wetteloosheid en die polisie het hopeloos gefaal deur hul afwesigheid op straat en sakeondernemings sal nooit die verliese wat as gevolg daarvan ontstaan het, weer kan inhaal nie.
uitgekontrakteer
Volgens terugvoer van private veiligheidsmaatskappye is hulle tot die uiterste beproef om die werk van die polisie te doen en waar die polisie uit vrees glad nie Mbekweni wou betree nie, moes hulle daar ingaan om situasies te ontlont.
Die sakekamer is van mening dat hier ’n ernstige vertrouensbreuk teenoor die polisie en hul leierskap ontstaan het en dat baie werk nodig is om die situasie te verbeter, dit gaan nie vanself regkom nie.
Sonder om te klink soos ’n spreekwoordelike plaat wat vashaak, bekyk ons vlugtig die algemene aanloop tot die jongste flater wat die SA samelewing oor hulself gebring het.
Verskeie bedrywe gaan steeds gebuk onder die negatiewe uitwerking wat die regering se ondeurdagte ekonomiese maatreëls tydens die Covid-19-pandemie veroorsaak het.
Ons dra ook swaar aan die gevolge van die kragramp wat deur Eskom self veroorsaak is en ons ekonomie gaan ook gebuk onder die wêreldwye verlangsaming in ekonomiese aktiwiteite.
Ons het ook nog nie heeltemal herstel van die gevolge van die week lange verwoesting wat in KZN en elders gesaai is tydens die voormalige president se gevangenisstraf wat gedurende Julie 2021 ’n aanvang geneem het nie.
Hier en daar is welkome tekens van herstel in ons plaaslike gasvryheids- en toerismebedryf, net om weer eens geskok te word deur ’n moord op ’n Britse toeris digby die Kaapstadse lughawe.
Ekonome sal met ons saamstem dat hierdie aanhoudende negatiewe voorvalle ’n langdurige uitwerking op vertroue in ons ekonomie plaaslik en nasionaal het. Hoeveel absurde voorvalle en ondeurdagte foute moet nog gemaak word voordat die laaste strooi die kameel se rug gaan knak ten koste van wetsgehoorsame burgers wat probeer om huis en haard aanmekaar te hou?
Fyn balans
Die Stad Kaapstad se leierskap moes ’n fyn balans handhaaf tussen die welsyn van sy burgers, en die onverkwiklike eise van die taxibedryf om wetgewing te laat verslap om die algemene minagting van padveiligheidswette verder toe te laat, wat genadiglik nie ’n oorweging blyk te gewees het in die finale ooreenkoms wat Vrydag bereik is nie.
Die Stad Kaapstad se leiers word geprys vir hul pogings om hierdie krisis die hoof te bied.
Ons sakekamer verkies algehele nakoming van wette en ’n vreedsame omgewing vir sakeondernemings en verbruikers bo enige gewaande regte wat die andersdenkende burgers op ander wil afdwing.
Kan ons in Suid-Afrika nie maar konsensus bereik oor die beskerming van mense se reg om te kan werk en vryelik in die samelewing te kan beweeg nie, of vryheid van spraak te kan beoefen sonder om vernietig te word nie? Die land kan nie toelaat dat die reg om te betoog gelyk staan aan intimidasie, moord, anargie, algemene misdadigheid en verwoesting van infrastruktuur nie.
Watter voordeel het die afbrand van openbare eiendom en die vernietiging van infrastruktuur in die afgelope staking?
Ons verkeer nie in ’n oorlog nie en is veronderstel om te alle tye die morele hoë grond te handhaaf ongeag watter kant van die onderhandelingstafel jy sit of wat ook al jou grief mag wees.
In hierdie stadium is daar egter meer vrae as antwoorde, maar ons bly hoopvol.
Suid Afrikaners, glo ons, is veerkragtig en sal maniere vind om die negatiewe optredes van rewolusionêre magte uit te rangeer om ’n beter ekonomie tot almal se voordeel te help bou. Ons het almal mekaar nou nodig om Suid-Afrika te laat floreer en verdere selfopgelegde skade te voorkom. Dit moet ook gesien word in die lig van nuwe sakegeleenthede en nasiebou. . Dirk Breytenbach is voorsitter van die Drakenstein-sakekamer.