‘Ons is reg vir nog ’n droogte’ – DM

Die afgelope winter het die Boland en Kaapse Wynlande een van die koudste en natste seisoene in jare beleef, wat ’n mengsel van skade en seën vir die streek gebring het.


Die afgelope winter het die Boland en Kaapse Wynlande een van die koudste en natste seisoene in jare beleef, wat ’n mengsel van skade en seën vir die streek gebring het.

Swaar reënval, koue wind en ongewone hoeveelhede sneeu het baie gebiede geteister, wat oorstromings, infrastruktuurskade en uitdagings vir inwoners veroorsaak het. Terselfdertyd het die winterneerslae egter ook waardevolle waterbronne vir die landbou verskaf, wat vir wynboere en ander landbouers uiters positief was.

Volgens Paarlse reënvaldata was die reënval vir Julie die naashoogste in 100 jaar. ’n Reusagtige 456 mm is in dié maand vir die Paarl gemeet, terwyl Julie se gemiddelde reënval vir die gebied oor die afgelope 100 jaar 142 mm is en vanaf 2000 net 127 mm.

Met die aanvang van die winter het hewige storms die Boland en omliggende Wynlande met volle krag getref. Dorpe soos Paarl, Stellenbosch en Franschhoek het swaar reën ervaar, wat tot oorstromings en modderstortings gelei het.

Paaie is weggespoel, brûe is beskadig en talle huishoudings het sonder elektrisiteit en water gesukkel. In sommige laerliggende gebiede was die water so hoog dat gemeenskappe moes oppak en verhuis, terwyl plaaslike sakeondernemings ook onder druk was.

Landbouers het ook skade gely – veral in wingerde en vrugteboorde wat oorstromings moes hanteer. Skade aan jong wingerdstokke en gewasse het boere gedwing om vroeë herstelwerk te doen om verdere verliese te voorkom.

Aan die ander kant het die ongewoon swaar sneeuval op die berge rondom die Kaapse Wynlande egter hoop gebring vir landbouers wat water vir hul gewasse en wingerde nodig het. Die Matroosberg, die Hottentots-Holland-berge en die Franschhoek-berge was oortrek met dik sneeulae wat gehelp het om waterbronne aan te vul. Hierdie sneeu het ’n stadige en bestendige afvloei van water beteken, wat damme soos die Bergrivier-dam en die Theewaterskloofdam gevul het.

Vir wynprodusente was hierdie neerslae veral goed vir die komende groeiseisoen.

Die goeie waterbeskikbaarheid ná die winter verseker dat wingerdstokke goed gehidreer is, wat tot gesonde groei in die lente en somer sal lei. Dit bied die vooruitsig van ’n sterk oes en topgehalte druiwe vir wynproduksie.

Terwyl die kwaai winter groot skade aan infrastruktuur aangerig het, het dit ook die landbousektor bevoordeel – veral op die gebied van waterhulp­bronne en landbouproduksie.

Wynprodusente, vrugteboere en ander landbouers sal baat vind by die volop water wat vir besproeiing beskikbaar is.

Die swaar sneeuval het nie net die landskap pragtig laat lyk nie, maar was ook van groot waarde vir die volhoubaarheid van plaaslike landbou.

Met water wat nou in oorvloed is, het talle mense reeds vergeet van die groot droogte van 2018 toe die krane letterlik byna opgedroog en Dag Zero aan die deur geklop het.

Sedertdien het die Drakenstein se bevolking reusagtig gegroei weens reuse-ontwikkelings en semigrasie van elders in die land hierheen.

Maar, ’n waterskaarste word in die nabye toekoms voorspel.

Dus word gevra (met al die bykomende inwoners van die vallei) – is die gebied gereed vir nóg ’n droogte en hoe sorg hulle dat hierdie waardevolle lewensbron beskerm word?

Louis Pienaar, uitvoerende direkteur: Ingenieursdienste verduidelik:

Die Drakenstein-munisipaliteit se geouditeerde waterverliese vir die 2022-’23-boekjaar was 17%. In 2023 het die munisipaliteit hiervoor erkenning gekry van die nasionale departement van water en sanitasie deur die toekenning van ’n “No Drop Award”, wat onder meer waterbesparing, -verbruik en -verliese assesseer.

Foutiewe toilette lei tot die grootste waterverliese in huishoudings. Inwoners moet dus seker maak dat lekkende toilette en krane so spoedig moontlik reggemaak word.

Inwoners kan ook nuttige inligting oor hoe om lekkasies vinnig op te spoor, op die munisipaliteit se Facebook-blad, WhatsApp-kanaal of webtuiste verkry. Gebarste pype is ’n noodgeval en moet tolvry by 080 131 3553 (alle ure) aangemeld word. Dit is baie belangrik dat die publiek die korrekte adres vir enige werke, en veral vir gebarste pype, aandui.

Die besoedeling van die munisipaliteit se stormwater­stelsels en die Bergrivier bly verder ’n groot uitdaging. Ons sien dat heelwat stormwater-indringing in die munisipale rioolstelsels plaasvind, wat ’n groot las op die munisipale rioolnetwerk en rioolsuiwe­rings­­werke plaas.

Huishoudings wat stormwater of water van dakke of geute in die rioolnetwerk laat loop, kan stewig beboet word.

Wat nuwe ontwikkelings betref, doen die munisipaliteit voorafbeplanning deur middel van die gereelde opdatering van ons water- en riool-meesterplanne vir die daarstelling van grootmaat­dienste vir alle nuwe ontwikkelings. Grootmaat­pypleidings word byvoorbeeld reeds beplan vir Suider-Paarl en die Klapmuts-gebied, waar planne vir nuwe ontwikkelings in die pyplyn is. Ons fokuspunt is om ’n minimum stoorkapasiteit van 48 uur vir alle reservoirs te hê.

Die munisipaliteit het reeds tydens die 2018-droogte (asook daarna) begin om boorgat-suiweringswerke op verskeie liggings in die munisipale gebied op te rig. Dié boorgate lewer gesamentlik 8,3 megaliter per dag. Die bestaande volume water in die twee bergdamme, Bethel en Nantes, word verder vir maksimum kapasiteit bestuur, en ons het ook begin – saam met eksterne kundiges – om addisionele toekennings uit ander bronne vir die Paarl en Wellington te ondersoek.

Die munisipaliteit versoek die publiek vriendelik om steeds water te bespaar. Inwoners kan byvoorbeeld gryswater (soos stort- of badwater) vir die natmaak van plante en bome gebruik. Die opvangs van reënwater in tenke vir hierdie gebruik word ook aanbeveel.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.