Dit is ’n week ná die nasionale en provinsiale verkiesing, en nou sit en wag ons maar salig en geduldig vir al die beloftes om bewaarheid te word.
Hoewel ek vir meer as twee ure in ’n lang ry moes staan en my beurt afwag om my kruisie te trek, is ek nie spyt nie.
Die atmosfeer tussen die mense was glad nie “swaar” nie en baie was vol geselsies. Dit was vir my regtig ’n riem onder die hart om die groot opkoms van mense te sien. Mense is honger vir verandering; vir iets nuuts. Ons het nie meer krag om so van dag tot dag te sukkel nie. In sommiges se oë kan ek sien hulle hang aan die laaste bietjie hoop binne hulself.
Hulle hoop vir ’n beter toekoms; ’n beter samelewing. Hulle hoop om vir ’n slag net rustig te kan asemhaal sonder enige laste, veral finansieel moet ek beklemtoon, wat mense slapelose nagte gee. So nou staan ons almal saam in die hoop dat ons die regte kruisie getrek het, want as ’n nasie staan ons sterker wanneer ons saamstaan.