David Maynier, die Wes-Kaapse LUR vir onderwys. Foto: Argief


Die Wes-Kaapse Onderwys-departement (WKOD) het verlede week aangekondig meer as 2 000 van die onderwysposte in dié provinsie sal volgende jaar nie beskikbaar wees nie.

Die nuus laat die onderwysgemeen­skap geskok, maar ook bekommerd omdat daar nog onsekerheid is oor watter onderwysers se poste direk geraak gaan word.

Die werklikheid is dat die besnoeiing van onderwysposte alle onderwysers raak. Die onderwysers wie se poste nie besnoei gaan word nie, gaan met ’n nóg hoër werkslading sit en nóg groter klasse.

Volgens David Maynier, LUR vir onderwys, probeer die departement alles in sy vermoë om die besnoeiing te vermy, maar met die nasionale regering wat aan die voorgestelde onderwysbegroting van die Wes-Kaap sny, is hul hande afgekap.

“Ons doen alles wat ons kan om vir ons onderwysers te veg, maar ons word gekortwiek deur die nasionale regering, en ontvang slegs 64% van die koste van die nasionaal onderhandelde loonooreenkoms, wat die provinsie oorlaat om die oorblywende 36% te finansier, wat tot ’n massiewe begrotingstekort van R3,8 miljard lei.

“Ons het alles in ons vermoë gedoen om vir ons onderwysers te veg deur begrotingsbesnoeiings oor die hele linie op te lê, insluitend administrasie, kurrikulum en infrastruktuur. Ons het ook die werwing van die meeste staatsdienspersoneel gevries, skole aangemoedig om kontrakaanstellings om te skakel en die aanstelling van plaasvervangeronderwysers te beperk.”

Maynier meen vir die departement om finansieel bestendig te bly, het hulle nie ’n keuse as om poste te besnoei nie.

“Die WKOD sal nou saam met skole werk om te bepaal watter onderwysers geraak sal word. Ons dank nie onderwysers af nie.

“Die vermindering van poste sal beteken dat sommige kontrakonderwysers nie heraangestel sal word nadat hul kontrakte op 31 Desember eindig nie, en sommige permanente onderwysers sal gevra word om na ’n ander skool te skuif waar ’n geskikte vakature beskikbaar is.”

Solidariteit het dit duidelik gemaak dat hy gekant is teen die WKOD se besluit. Johan Botha, adjunkhoofsekretaris van professionele sektore by Solidariteit, meen daar is reeds ’n tekort aan onderwysers en ’n kommerwekkende aantal leerders sukkel met basiese vaardighede.

Hy reken die situasie is as gevolg van die swak bestuur van die departement van basiese onderwys.

Brett Herron, die GOOD-party se sekretaris-generaal en lid van die Wes-Kaapse parlement, sê: “Die vermindering van onderwysposte in die Wes-Kaap sal kinders se reg op basiese onderwys direk raak, tesame met die gehalte van onderwys wat hulle in staatskole ontvang.”

Die getal poste wat in die onderskeie onderwysdistrikte verminder sal word is soos volg: Kaapse Wynland (299); Weskus (117); Overberg (117); Eden en Sentraal Karoo (200); Metro-sentraal (309); Metro-oos (459); Metro-noord (462) en Metro-suid (444).

Paarl Post het met ’n plaaslike onderwyser gesels oor hul bekommernisse.

“Om ’n pos of poste te verloor, is ’n netelige saak. Die feit dat ons skool ’n pos verloor, sal definitief tot ons nadeel strek. Die meeste opvoeders is reeds oorlaai met die klasse wat hulle aanbied, en om nou ’n ekstra lading te moet dra, gaan nog meer druk op hulle plaas.

“Van ons klasse het tot 49 leerders, wat beteken óf die klasse word 55 óf ons moet beheerraadposte skep – iets wat ons nie kan bekostig nie. Ons hoop is absoluut op die WKOD om sy besluit te heroorweeg, anders gaan gehalte- onderwys in die wiele gery word.”

’n Derdejaar-onderwysstudent sê sy is “baie bekommerd en angsbevange” oor die moontlikheid dat sy dalk nie werk sal kry wanneer sy haar studies voltooi nie.

“Ek het in vroeëkinderontwikkeling gestudeer en was die topstudent en het met 94% geslaag. Ek het toe nagedink om verder – ook met ’n gesukkel – te leer, want ek was altyd op ’n waglys. Ek het baie gebid dat ek net aanvaar moet word by ’n universiteit, want dis my passie om met kinders te werk.

“Ek’s toe uiteindelik aanvaar in my tuisdorp by KSUT in Wellington, waar ek tans ’n A-kandidaat is. Ek is super trots op myself, want ek is 41. Ek het nooit besef wat regtig in my steek nie, maar deur die opgewondenheid, toe kom die skielike teleurstelling wat so hartseer is, want ek het regtig laat aande opgesit. Soms wou ek opgee en nou net om te hoor onderwysposte word gesny.

“Ek is tans ’n derdejaarstudent wat nie weet wat volgende gaan gebeur nie.

“Sal daar ooit werk vir ons wees?

“Ek is bekommerd en ek stres, want wat gaan van al die ander studente word wat tans leer? Ek soek net klarigheid oor wat met ons gaan gebeur, want hoe kan ’n mens net poste sny?

“Onderwysers is daar om leerders te leer en dis reeds moeilik om aan 30 kinders in ’n klas aandag te gee of by almal uit te kom, wat nog te sê van 40 of meer kinders?

“Dit voel of ons beweeg na die verlede toe ons 40 tot 44 in ’n klas was.”

You need to be Logged In to leave a comment.