Die onderwyser wat verlede jaar by ’n gesogte skool in die Paarl afgedank is nadat ’n interne ondersoek hom op ’n aanklag van seksuele teistering skuldig bevind het, is vroeër vanjaar na bewering by ’n skool in die Overberg-distrik aangestel.
Die nuus het verlede week aan die lig gekom en die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) het ondersoek ingestel.
“Die WKOD het verlede week amptenare na die skool gestuur om die skoolbeheerliggaam in kennis te stel om die persoon onmiddellik van die skool se perseel te verwyder en terugvoering oor sy aanstelling te gee. Hy is dieselfde dag uit die skool verwyder. Die WKOD ondersoek sy aanstelling en die prosesse wat deur die skool gevolg is,” sê Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die departement.
Met die onderwyser se afdanking in Oktober verlede jaar by die Paarlse skool, sê Hammond, is ’n nota by die onderwyser se persoonlike rekord geplaas sodat hy nie in die toekoms weer as ’n staatsamptenaar of as onderwyser in diens kan tree nie.
“Die betrokke persoon is uit sy vorige skool ontslaan. Die vorige skool het in Julie 2022 bewus geword van beweerde seksuele teistering van ’n leerder. Die opvoeder was destyds ’n skoolbeheerliggaam-aanstelling. Die opvoeder is onmiddellik geskors en is nie toegelaat om op die perseel [van die skool] te wees hangende die ondersoek nie. Die skoolbeheerliggaam, as die werkgewer van die betrokke opvoeder, het ’n onafhanklike arbiter aangestel om die tugverhoor te behartig. Die opvoeder is skuldig bevind en op 25 Oktober 2022 ontslaan.
“Die WKOD het ’n blokkering op die Persal-stelsel geplaas om te verhoed dat die werknemer deur die WKOD in die staatsdiens heraangestel word. Die saak is ook aangemeld in ooreenstemming met die kinderwet en WKOD-protokol oor die bestuur van mishandeling en verwaarlosing, via ’n vorm 22, wat by die departement van maatskaplike ontwikkeling ingedien is.”
Hoe hy deur die krake geglip het, word deur die departement ondersoek. Hammond sê dit is kommerwekkend dat hierdie persoon leerders by ’n skool in die Overberg-distrik onderrig het – ook as ’n skoolbeheerliggaam-werknemer.
Volgens Hammond doen die departement agtergrondondersoeke wanneer dit by potensiële werknemers kom. Sy sê dieselfde agtergrondondersoeke behoort gedoen te word wanneer ’n skoolbeheerliggaam ’n aanstelling doen.
“Hy sou nie in diens van die WKOD kon wees nie, aangesien ons ’n blokkering op Persal, ons personeel- en salarisstelsel, geplaas het. Die departement gebruik streng prosesse wanneer nuwe permanente werknemers aangestel word. Met betrekking tot ’n skoolbeheerliggaam-aanstelling moet enige persoon of opvoeder wat met ons leerders werk, aan dieselfde streng kontrole voldoen wat die WKOD uitvoer – voor enige aanstelling deur ’n skoolbeheerliggaam.”
. The teacher who was dismissed from a prestigious school in Paarl last year after an internal investigation found him guilty of sexual harassment, was appointed at a school in the Overberg earlier this year.

