Alicia Vorster het die grootste skok van haar lewe gehad toe sy Dinsdagmiddag (13 September) twee diewe in haar Ford Eco Sport voor Hugenote Hoërskool sien wegry het. Maar sy kan met verligting en dankbaarheid terug kyk na die angswekkende voorval, nadat sy die volgende dag herenig is met haar motortjie.
Die 25-jarige Paarliet, wat private wiskundeonderrig aanbied, het aan Paarl Post vertel dat sy besig was by die skool om haar laaste les van die dag aan ‘n leerder af te sluit.
“Ek het omstreeks 17:00 na die kleedkamer geloop toe ek ‘n verdwaalde man en vrou in die gang sien loop het. Die skool was doodstil, behalwe vir my baas en ‘n handjievol atletiek kinders wat die middag nog laat by die skool was.”
Sy het vanaf die kleedkamer teruggekeer na haar klas en gesien dat die man buite haar klas wag terwyl die vrou binne haar klas ronddwaal.
“Ek het aangeneem dat hulle moontlik ouers is wat met my baas wil gesels. Hulle was so netjies aangetrek – ek sou glad nie hulle van ‘n misdaad kon verdink nie.”
Die man het met Alicia begin gesels en dit is toe dat die vrou vermoedelik haar motorsleutel van die tafel af gesteel het.
“Hulle is kort hierna weg. Toe ek die klas binnegaan het ek binne minute besef dat my motorsleutels nie meer op die lessenaar was waar ek dit normaalweg hou nie. Ek het paniekbevange die skool gange ingevaar en gegil dat ek beroof is. Ek is buite na die parkeerterrein waar my motor parkeer was, en net betyds om te sien hoe my motortjie wegry met die vrou agter die stuur en die man langsaan haar.
“Kyk, ek was al maklik vier keer in my lewe beroof, maar hierdie was by verre die ergste. Ek het in trane uitgebars,” sê sy. Alicia se skootrekenaar en beursie was ook in die motor.
Sy het dadelik die diefstal by die polisie en verskeie veiligheidsgroepe aangemeld en danksy sekuriteitskameras is die motor tot in Parow gevolg.
Die motor het spoorloos verdwyn na dit in Parow gewaar is, en Alicia het uit pure rusteloosheid haar eie ondersoek ingestel.
“Die man en vrou was vroeër die middag by Medicross in Wellington gesien waar hulle deur mense daar as agterdog beskryf is, en toe later by KWV in die Paarl en ‘n Spar op die dorp. Minstens agt mense het my gekontak met video-opnames waarin die paartjie geïdentifiseer kan word.”
En danksy ’n oplettende polisieman, is die twee verdagtes vasgetrek die volgende dag en Alicia se motor is onbeskadig aan haar terugbesorg.
“Die polisieman was gister (15 September) buite die polisiestasie toe hy my oranje Ford Eco Sport sien verby ry. Hy het agterdogtig geraak toe hy oplet dat die motor se nommerplate afgeruk was en het die plasing van die gesteelde kar op Facebook gesien. Hy het die motor agterna gesit waarna die diewe vasgetrek is.”
En so is Alicia gistermiddag deur Kraaifontein-polisie ingelig dat haar motor veilig by hulle is en dat twee mense in hegtenis geneem is vir die diefstal daarvan.
“Ongelukkig is my skootrekenaar gesteel, maar ek het darem my beursie teruggekry omdat dit so mooi onder die sitplek versteek was.”
Alicia verduidelik dat die verdagtes so ver gegaan het om haar motor te laat was met die doel om dit te verkoop.
“Hulle het my motor al begin adverteer om dit teen slegs R15 000 te verkoop.”‘
‘n Saak van motordiefstal is by Wellington-polisie aangemeld en die stasiebevelvoerder, kol. Johan Barkhuizen, het bevestig dat die saak na Kraafontein-polisie oorgeplaas sal word.
Barkhuizen sê dat daar vermoed word dat die twee verdagtes waarskynlik deel is van ‘n motordiefstal-sindikaat.
Alicia glo ook die kanse is goed dat haar skootrekenaar nog opgespoor kan word, maar dat sy net te verheug is oor haar motor wat terug in haar besit is.
“Dit is my eerste karretjie wat ek in matriek gekry het. Al dié dinge is net aardse besittings, maar ek is gelukkiger as meeste mense wat deur diefstal geteiken word.”
Alicia is tevrede met die nuus dat Hugenote Hoërskool se bestuur ‘n vergadering geroep het om die skoolgronde meer te beveilig.


