Alicia Vorster (25) spog met haar terugbesorgde motor amper as of sy dit splinternuut aangeskaf het.


Alicia Vorster het die grootste skok van haar lewe gekry toe sy Dinsdagmiddag (13 September) twee diewe in haar Ford EcoSport voor Hugenote Hoërskool sien wegry het. Maar met verligting en dankbaarheid is sy die volgende dag met haar motortjie herenig.

Die 25-jarige Paarliet, wat private wiskundeonderrig aanbied, het aan Paarl Post vertel sy was besig om haar laaste les van die dag met ’n leerder af te sluit.

“Ek het omstreeks 17:00 na die kleedkamer geloop toe ek ’n verdwaalde man en vrou in die gang sien stap. Die skool was doodstil, behalwe vir ’n handjievol atletiekkinders wat die middag nog laat by die skool was.”

Sy het van die kleedkamer teruggekeer en gesien dat die man buite haar klas wag terwyl die vrou binne die klas ronddwaal.

“Ek het aangeneem hulle is moontlik ouers. Hulle was so netjies aangetrek – ek sou hulle nie van ’n misdaad kon verdink nie.” Die man het met Alicia begin gesels en dit is toe dat die vrou vermoedelik haar motorsleutel van die tafel af gesteel het.

“Hulle is kort hierna weg. Ek het binne minute besef dat my motorsleutels nie meer op die lessenaar was nie. Ek het paniekbevange die skoolgange ingevaar en gegil dat ek beroof is. Ek is na buite waar my motor geparkeer was, net betyds om te sien hoe my motortjie wegry met die vrou agter die stuur en die man langsaan.

“Kyk, ek is al maklik vier keer in my lewe beroof, maar hierdie was verreweg die ergste. Ek het in trane uitgebars,” sê sy.

Alicia se skootrekenaar en beursie was ook in die motor.

Sy het dadelik die diefstal by die polisie en verskeie veiligheidsgroepe aangemeld en danksy veiligheidskameras is die motor tot in Parow gevolg.

Die motor het spoorloos verdwyn na dit in Parow gewaar is, en Alicia het uit pure rusteloosheid haar eie ondersoek begin.

“Die man en vrou is vroeër die middag by Medicross in Wellington gesien waar hulle deur mense daar as agterdogtig beskryf is, en toe later by KWV in die Paarl en ’n Spar op die dorp. Minstens agt mense het my gekontak met video-opnames waarin die paartjie geïdentifiseer kan word.”

En danksy ’n oplettende polisieman in Kraaifontein is dié twee verdagtes die volgende dag vasgetrek en Alicia se motor is aan haar terugbesorg.

En so is Alicia Woensdagmiddag deur Kraaifontein se polisie ingelig dat haar motor gevind is en dat twee mense in verband met die misdaad in hegtenis geneem is.

“Ongelukkig is my skootrekenaar gesteel, maar ek het darem my beursie teruggekry.”

Alicia verduidelik dat die verdagtes so ver gegaan het om haar motor te laat was met die doel om dit te verkoop.

“Hulle het my motor al begin adverteer om dit teen slegs R15 000 te verkoop.”

’n Saak van motordiefstal is by Wellington-polisie aangemeld en die stasiebevelvoerder, kol. Johan Barkhuizen, het bevestig dat die saak na die Kraaifontein-polisie oorgeplaas sal word.

Barkhuizen sê daar word vermoed dat die twee verdagtes waarskynlik deel is van ’n motordiefstal-sindikaat.

Alicia is net te verheug oor haar motor wat terug in haar besit is.

“Dit is my eerste karretjie wat ek in matriek gekry het. Al dié dinge is net aardse besittings, maar ek is gelukkiger as meeste mense wat deur diefstal geteiken word.”

Alicia is tevrede met die nuus dat Hugenote Hoërskool se bestuur ’n vergadering byeengeroep het om die skoolterrein veiliger te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.