Die Wellington-nagskuiling se amptelike bekendstelling op 15 Augustus.

Foto: Heleen Rossouw

Die bestuur van die Wellington-nagskuiling blyk buite beheer te wees en word al lank deur betrokke rolspelers en belanghebbendes in die dorp bevraagteken.

Sedert die Drakenstein-munisipaliteit (DM) die amptelike bestuur van die nagskuiling op 18 Augustus aangestel het, wonder Wellingtonners hoe volhoubaar dit sal wees – veral nadat ’n welbekende inwoner van die skuiling, ene Bennet, verlede Donderdagaand op die perseel dood is.

Die DM se uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, Gerald Esau, het aan Paarl Post bevestig Networking for Christ (NFC) is vir die bestuur van die nagskuiling aangewys.

NFC is ’n plaaslike organisasie sonder winsoogmerk (NPO) wat in 2017 gestig is. Inligting oor die organisasie is vaag, selfs ná navrae oor die organisasie aan Esau.

Die NFC het met G-Voucher, ’n ander NPO wat al jare met die dorp se haweloses werk, meegeding in die tenderaansoeke om die nagskuiling te bestuur.

Die nagskuiling is onlangs deur die DM op munisipale grond van die NG kerk se Moedergemeente in Kerkstraat bekendgestel. Dit is ook die perseel waarop G-Voucher die afgelope vyf jaar ’n voedingskema en groentetuin vir plaaslike haweloses bedryf.

Sedertdien is nog talle klagtes ontvang van verskillende oorde in die dorp wat oor die mense op straat se doen en late besorg is, veral met die doel om Wellington se aantrekkingskrag as toeristebestemming te bevorder.

Haweloses kla dat die kosgehalte verander het en hulle sommige dae honger gelaat is. Die nagskuiling is “vol” en huisves glo ook van die sogenaamde “skollies” wat ander huisvesting in die dorp het.

Esau erken dat minder haweloses tans tydelike huisvesting geniet, nadat die burgemeester, Conrad Poole, by die bekendstelling beloof het dat 48 mense gehuisves sal word.

“Tans word daar minder haweloses gehuisves. Die nagskuiling kan 30 haweloses huisves. Tans woon vyf vroue en 25 mans vrywillig daar,” verduidelik hy.

Dit behels slegs mense wat van Wellington is, sê hy. Altesaam 120 moet op hul beurt wag, van wie 37 buite Wellington is.

“Weens die aard van die slaapgeriewe word 30 haweloses tans in die oornagskuiling gehuisves. Die DM beplan om die bestaande geriewe as deel van ’n tweede fase op te knap sodat meer as 48 mense in die toekoms daar gehuisves kan word.”

Maar, wat het die munisipaliteit se uiteindelike besluit op NFC gemotiveer, terwyl talle mense bewus is van die noue bande wat die organisasie glo met die burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid, Avron Appollis, handhaaf?

Esau het verseker dat die NFC aangestel is omdat hulle aan die vereistes voldoen.

“Die proses wat gevolg is om die NFC aan te stel, is op ’n administratiewe vlak bestuur en hanteer. Geen politieke ampsbekleërs, insluitend die burgemeesterskomiteelid Appollis, was hierby betrokke nie.”

Hy sê dié organisasie het gekwalifiseerde maatskaplike werkers, sowel as hulpwerkers direk in hul diens.

Hulle behartig die herintegrasieproses van haweloses in samewerking met die Wes-Kaapse departement van maatskaplike dienste.

Toe destyds versoek is om die memorandum van ooreenkoms tussen die munisipaliteit en NFC te bestudeer, het Esau gemeen “enige kontraktuele ooreenkoms met ’n derde party word op die beginsel van vertroulikheid gesluit”.

Wat die maatskaplike herintegrasieprogram betref, meen Esau, beskik die NFC oor die nodige professionele maatskaplike werkers om met die program te begin.

“Daar is egter bepaalde aspekte wat tans met die departement gefinaliseer word wat die tydlyn van die (maatskaplike program) sal bepaal, sowel as hoeveel haweloses in die program ingesluit kan word.”

Tog het ’n betroubare bron gesê: “Dit gaan sleg daar by daai containers. Daar is geen orde nie; ek weet nie eens waar die nuwe mense is nie. Hulle sit heeldag in daai kantoortjie.”

Laetitia Cupido, wat in haar private hoedanigheid versorging aan die haweloses bied, bly skepties oor die protokol wat gehandhaaf word.

“Van my mense kla hulle is honger. Hulle het blykbaar (verlede Sondag) nie kos gekry nie. Hulle sê ‘ons mis oom Clifford van G-Voucher. Ons mis ook die gebed – die nuwe bestuur bid nie eens vir ons nie’.”

Cupido se eie waarneming van die nagskuiling se daaglikse bedrywighede toon gewone werksure tussen 08:00 en 16:00.

“Hoe werk dít nou wanneer die organisasie ’n nagskuiling moet bedryf?”

Van dag een was die bedoeling van die DM om ’n oornagskuiling op te rig, en nie ’n voltydse skuiling nie, verduidelik Esau.

“Die bedoeling is dus om ’n veilige oornaghawe aan haweloses te voorsien en hulle die geleentheid gedurende die dag te gun om werksgeleenthede te bekom.

“Van die haweloses werk reeds by mense in Wellington, wat ’n bydrae tot die herstel van hul menswaardigheid lewer.”

Ander mense in die dorp monitor die situasie ook fyn en lewer gereeld kommentaar op Facebook.

“Ek het die week met twee straatmense gesels. Hul goed is gesteel by die containers, so hulle voel veiliger waar hulle (op straat) is. En dit is voor hierdie insident,” lui die klagte met verwysing na Bennet se dood.

Die program,volgens Esau, werk so: “Haweloses verlaat die oornagskuiling soggens net ná 08:00 sodat die area gereed gekry kan word vir die volgende aand, behalwe in abnormale weersomstandighede of wanneer begunstigdes vrywillig aan projekte en programme deelneem.

“Die funksionaliteit van die NFC werk tans tot 16:00 en die oornag-gedeelte word deur die munisipaliteit bestuur. Dit is slegs ’n tussentydse reëling terwyl die proses met die provinsiale departement van maatskaplike ontwikkeling gefinaliseer word.

“Die voedingskema werk op ’n stelsel van voorsiening van voedsel vir oornagdoeleindes en gedurende die oggend,” sê Esau.

Op sy beurt deel Clifford Asia van G-Voucher die gevoel dat hul groentetuin en voedingskema-model in die oprigting van die nagskuiling gekaap is.

“Daar is geen voedingsooreenkoms tussen DM en G-Voucher nie. Die nuwe bestuur word vergoed om te sorg dat die begunstigdes kos kry. Ek het opgelet dat wetstoepassers die kos na die nagskuiling toe aanry,” sê Asia.

Esau redeneer dat nóg G-Voucher nóg enige ander instansie verhoed word om ’n funksionerende voedingskema gedurende die dag te bedryf.

Paarl Post het gevra of ’n mandaat van ondersteunende samewerking tussen die NFC en G-Voucher oorweeg word.

“Na ons mening sou samewerking of die inkontraktering van bepaalde dienste nie die suksesvolle bestuur van die oornagskuiling verhoed nie. Ons is tans besig om ’n administratiewe besluit in hierdie verband te neem – in samewerking met interne lyndepartemente van die munisipaliteit,” antwoord Esau.

Wat die rehabilitasie of berading van begunstigdes betref, is die soort projekte vrywillig.

“Ons kan nie mense dwing om daaraan deel te neem nie.

“Ons glo die vertrouensverhouding wat gevestig word met die haweloses sal hulle meer gemaklik laat voel om in die toekoms vrywillig aan projekte of programme deel te neem om hulle te help om hul regmatige rol in die samelewing te hervat.”

You need to be Logged In to leave a comment.