Die gemoedere van betogers buite die Paarl-landdroshof het Vrydagoggend hoog geloop toe hulle hoor die twee verdagtes wat weens die moord op die vierjarige Tamia “Mia” Botha in hegtenis geneem is, sal nie in die hof verskyn nie.
Die kleuter het verlede Sondag (25 September) omstreeks 16:00 verdwyn toe sy voor haar woning in Daphnestraat in Paarl-Oos gespeel het.
Haar ma, Udene Botha, het haar dieselfde aand omstreeks 20:00 by die Paarl-Oos-polisie as vermis aangemeld.
Inwoners tesame met verskeie rolspelers en die polisie het deur die nag na Tamia gesoek – sonder sukses.
Haar gekneusde en lewelose liggaam is die volgende dag tussen die lang gras op die perseel van Nederburg Primêr gevind.
Kapt. Anthony Sauls, ’n woordvoerder van die Paarl-Oos-polisie, het toe bevestig dat Tamia se lyk sowat 100 meter van waar sy vermis geraak het, gevind is. Sy het sigbare wurgmerke aan haar nek gehad.
Twee mans van onderskeidelik 37 en 40 is verlede Dinsdagaand (27 September) deur lede van die polisie se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe (GKS) in die Paarl, in hegtenis geneem. Die verdagtes sou Vrydag in die Paarl-landdroshof verskyn, maar die saak is nie op die hofrol geplaas nie.
Die hof het dit dieselfde oggend by monde van die Drakenstein-raadslid Edgar Arendse bevestig. Hy is aangewys as die woordvoerder vir die gemeenskap in verband met die Tamia-moordsaak, met die toestemming van Drakenstein se uitvoerende burgemeester, Conrad Poole, en die inwoners wat voor die hof teenwoordig was.
Na wat verneem word is die twee mans Vrydag vrygelaat omdat die polisie nie genoegsame bewyse het wat hulle met die misdaad verbind nie. Dié nuus het die gemeenskap diep ontstel en hulle eis antwoorde oor hoekom nog geen nuwe verwikkelinge in die saak na vore gekom het nie.
Die LPP Wendy Kaizer-Philander was ook Vrydag buite die hof. Sy sê haar bywoning en teenwoordigheid is om solidariteit te betoon met Tamia se ouers, familie en die gemeenskap.
“Ek het geen mandaat om namens die familie of gemeenskap te praat nie, maar ek is hier as ’n ma van twee dogters en ’n inwoner van Drakenstein. My hart bloei vanoggend vir Tamia. Sy was ’n mens; sy moes ideale en drome gehad het; sy moes iemand en iets wou word – sy wou dalk ’n danser, dokter of juffrou word. Nie sy of enige lewe verdien wat gebeur het nie. As ek sosialemediaberigte lees, verwoord dit dat Tamia in vrede moet rus. Ek is so bitterlik ontsteld [en voel] Tamia moenie in vrede rus nie. Haar skielike en wrede dood moet ons almal onrustig laat. Dit moet by ons spook, want almal van ons moet introspeksie doen.
“Tamia kan nie net ’n syfer – ’n statistiek – word tot die volgende kind en die volgende wat ons mettertyd net vergeet nie. Dis nie normaal nie; ons mag dit nooit gewoond raak nie. Ek staan ook hier vanoggend en ek weet ons wat die posisies beklee om ’n verskil te maak, kan nie net eenvoudig toesprake lewer nie. Tamia se dood moet ons terugdwing tafel toe en ons moet hand aan hand met ons gemeenskappe beter doen. Ons weet wat die euwels in ons gemeenskappe is. Dwelmmisbruik verkruppel ons samelewing. Ons moet nou meer as ooit aktiewe plaaslike dwelmaksiekomitees bewerkstellig.”
Inwoners het Sondag saam met Udene ’n kranslegging op die terrein van die skool waar haar dogter se liggaam gevind is, gedoen.
Die polisie het teen Maandag nog nie nuwe verwikkelinge in die saak, wat tans in ’n baie sensitiewe stadium is, aangekondig nie.
Arendse pleit by die gemeenskap om die polisie toe te laat om hul werk te doen, al is hulle gefrustreerd en kwaad. Hy voeg ook by baie stories doen op die oomblik die ronde met min feite, en vra mense met waardevolle inligting om na vore te kom. Enigeen met inligting wat die ondersoek kan help, kan speurkonstabel Elmarco Martiens by 083 788 1114 of 021 872 3546 bel.
- The spirit of protesters outside the Paarl Magistrates’ Court ran high on Friday when they heard the two suspects arrested for the murder of four-year-old Tamia “Mia” Botha will not appear. The two men were later released.


