’n Vrou van die Paarl is ontstoke nadat sy vir die tweede keer in twee weke weggewys is by die Paarl-biblioteek in Markstraat omdat boeke nie uitgeneem mag word nie.

Die vrou, wat ’n groot liefde vir lees het, vertel dat sy al sedert 1974 getrou van die biblioteekdiens in die Paarl gebruik maak.

Sy het egter meer as twee weke gelede, toe sy ’n stel boeke wou terugneem en nuwes wou uitneem, verneem dat die Paarl-biblioteek se stelsel van lyn af is en dat hulle slegs die boeke kan terugneem, maar geen boeke kan uitneem nie.

“Ek het vanoggend (5 Desember) weer gebel om te hoor of ek maar boeke kan uitneem en toe vind ek uit dat hulle steeds van lyn af is. Twee en ’n half weke is darem baie lank om van lyn af te wees. Waar moet ek nou my leesstof kry? Dit is baie erg vir iemand soos ek wat baie lief daarvoor is om te lees. Ek kyk televisie en in die advertensiegleuf lees ek vinnig ’n paar bladsye,” vertel sy.

“Weet julle hoe dit voel as jy nie sonder boeke kan klaarkom nie?”

Die vrou, wat haarself as ’n “getroue antieke leser” beskryf, meen dat dié storie nie net vir boekwurms soos sy ’n probleem is nie, maar dat leerders wat boeke wil uitneem vir studiedoeleindes ook benadeel word.

Volgens Gerald Esau, uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste by Drakenstein-munisipaliteit, ondervind die nasionale Slims-uitleenstelsel, die biblioteek- en inligtingbestuurstelsel, sedert 15 November grootskaalse stelselprobleme.

Esau verduidelik dat die stelsel deur die State Information Technology Agency (Sita) gedryf word en dat Sita besig is om dié probleem te ondersoek om dit so gou as moontlik te herstel.

“Die tydsduur is egter onseker.”

Oor of die ander biblioteke in Drakenstein ook deur dié probleem geraak word, sê Esau: “Alle biblioteke in die Wes-Kaap wat Slims-uitleenstelsel gebruik, word hierdeur geraak”.

“Al Drakenstein-munisipaliteit se biblioteke is egter oop en sal net tussen Kersfees en Nuwejaar sluit wanneer die munisipale kantore vir die feestyd sluit,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.