Die verwoestende brand wat op 18 Februarie op Groenberg in Wellington ontstaan het, het vrae ontlok oor die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) se rampbestuursplan nadat geen helikopters deur die munisipaliteit beskikbaar gestel is nie.
Die brand, wat vir ongeveer vyf dae gewoed het voordat brandbestryders dit teen die afgelope Maandag (24 Februarie) geblus het, het ongeveer 1 630 ha plantegroei – insluitend oeste –verwoes.
Dit is volgens Jo-Anne Otto, ’n woordvoerder van die KWDM.
Volgens Stephan Landsberg, ’n VF Plus-raadslid in Wellington, is ’n Black Hawk-helikopter asook een vastevlerkvliegtuig wel beskikbaar gestel, maar die plaaslike landbougemeenskap het daarvoor betaal.
Landsberg sê Wellington het tydens die brand aan die agterspeen van die KWDM se begroting gesuig.
Hy het ’n vergelyking getref met die brand op Paarlberg gedurende November 2023 waar drie helikopters binne ’n paar ure ontplooi is.
Volgens Landsberg was dit noodsaaklik dat die brand op Groenberg wat binne ’n paar uur na Slangrivier en die Bo-Hermondpad-omgewing versprei het, deur middel van ’n lugvleuel bestry moes word omdat dit, onder meer, parstyd was – die besigste tyd vir wynboere.
Vrugteboere in die omgewing was ook besig om te oes – onder meer koejawels op die plaas ML Fruits, wat brandskade aangemeld het.
Hy sê een van die KWDM se verwere kan moontlik wees dat hy slegs lugsteun beskikbaar stel wanneer infrastruktuur of wingerde en oeste in die gedrang is, soos tydens die brand op Paarlberg, maar argumenteer dat dit die geval tydens die Groenberg-brand ook was.
Hy meen hierdie tragedies, asook die enigste huis wat in die slag gebly het – op die Langkloof Roses-gasteplaas –moontlik vermy kon word indien finansiering deur beide die Wes-Kaapse regering asook die KWDM opsy gesit is vir lughulpbronne.
Hy sê sterk wind op 18 en 19 Februarie kon bydra tot die besluit om geen helikopters te ontplooi nie, maar twee opeenvolgende windstil dae is aangemeld waar ’n lugvleuel ’n groot verskil sou kon maak.
Die plaaslike landbougemeenskap het egter nie op hulle laat wag nie en dadelik ’n noodfonds gestig waarmee ongeveer R700 000 ingesamel is om ’n Black Hawk-helikopter vir vyf ure oor twee dae (20 en 21 Februarie) te ontplooi.
’n Plaaslike boer,
Volgens Otto word alle brande wat by die KWDM aangemeld word, deur die munisipaliteit se branddienste ondersoek, waarvolgens ’n beplande strategie en taktiek uitgevoer en aangepas word.
“In hierdie geval is die situasie vererger deur verskeie faktore. Sommige hiervan was natuurlik die baie warm weer, moeilike en ongelyke terrein wat toeganklikheid bemoeilik het, en sterk wind,” het Otto gesê.
“Ander faktore het die gebrek van brandbane ingesluit, die hoë brandstoflading wat deur baie digte, ononderhoude ou bloekom- en denneplantasies verskaf is en in sommige gebiede indringerplantegroei. Dit het beteken selfs al het die dienste helikopters ontplooi, die hulpbron vermors sou wees.
Eerstens sou die water nie deur die digte sambreel wat deur die plantegroei verskaf word, kon dring nie en tweedens kon grondspanne weens die digtheid van die plantegroei nie die brand bereik nie.”
Volgens Otto was die private helikopter en vastevlerkvliegtuig wat die landbougemeenskap ontplooi het om water te stort, aanvanklik suksesvol, maar later het ’n opvlamming plaasgevind en spanne moes terugkeer na tradisionele metodes.
Volgens dr. Elna von Schlicht, die uitvoerende burgemeester van die KWDM en wat ook in Wellington woon, is daar “geen twyfel” dat die brand skade aangerig het nie.
“Ons [KWDM se] harte gaan uit na Charles en Tina Kotze, wat hul huis en sentimentele besittings verloor het.”
Sy bedank ook die landbougemeenskap, Wellington Lions Club, die span by TotalEnergies Wellington, en Pick n Pay Wellington vir hul bystand.
Altesaam 12 voertuie en twee grondspanne van KWDM is ontplooi, terwyl drie voertuie van Drakenstein-munisipaliteit se brandweerdienste en ses grondspanne van Cape Nature ook teenwoordig was.