Die Polisie in Paarl-Oos ondersoek ’n saak van strafbare manslag nadat ’n 27-jarige man van Chicago Sondag tydens ’n vermoedelike tref-en-trap-voorval in Van der Stelstraat dood is.
Volgens kol. Leticia Hans, die Paarl-polisie se stasiebevelvoerder, het die bestuurder van die voertuig glo weggery nadat hy die slagoffer reg oorkant die Thusong-sentrum in Paarl-Oos getref het.
“Die voertuig wat agter hom gery het, het die gebeure aanskou en hom agternagesit. Hy het toe die verdagte tot by sy huis agtervolg en kon glo sien hoe die verdagte sy voertuig met ’n seil toegooi om vermoedelik die bewyse van die ongeluk te verdoesel.
“Die motoris wat hom agterna gesit het, het die polisie van die gebeure verwittig en die verdagte is kort ná die voorval in hegtenis geneem. Die polisie het ook op sy voertuig beslag gelê,” het Hans aan Paarl Post gesê.
Volgens Hans sal die verdagte eersdaags in die Paarl-landdroshof op aanklagte van strafbare manslag, roekelose en nalatige bestuur, asook vir die verlating van ’n ongelukstoneel verskyn.
Sy sê die 27-jarige slagoffer is Sondag op die toneel dood verklaar.
Met Paarl Post se besoek aan die ongelukstoneel het ooggetuies gesê die slagoffer het die pad oorgesteek om vullis in een van die gemeenskaplike asblikke te gaan gooi toe hy deur die voertuig getref is.
“Ons het eers gedink dis ’n dier wat hy raakgery het. Hy het so vinnig hier weggejaag dat ons skaars ’n behoorlike beskrywing van die kar kon kry. Ons kon ook nie eens sy nommerplaat sien nie. Maar hy behoort maklik opgespoor te word, want afgebreekte stukke van sy kar het agterbly,” het een vrou gesê.
“Daai kind het nie verdien om so tragies te sterf nie. Hy was ’n spesiale kind. Hy het ’n gestremdheid gehad. Hy het nooit mense gepla nie. Ek kan nie myself indink waardeur sy ouers nou moet gaan nie,” het die ooggetuie bygevoeg.
Die slagoffer is intussen op Facebook deur sy familie as Enrico Pietersen geïdentifiseer.
Paarl Post het uitgereik na sy suster, Lee-Aan, wat gesê het die familie is te emosioneel om in hierdie stadium met die media te praat.
. Intussen ondersoek die Paarl-polisie nog ’n klagte van strafbare manslag nadat ’n 33-jarige voetganger Maandagaand deur twee busse getref is.
Kapt. Louise du Plessis, ’n polisiewoordvoerder in die Paarl, het by navraag gesê die voorval het omstreeks 19:30 naby die Hugenoot-tolplaza gebeur.
“Met die polisie se aankoms het ooggetuies verduidelik die slagoffer het oor die N1-hoofweg probeer hardloop toe hy deur ’n bus en toe deur nog ’n bus getref is. Die slagoffer is op die toneel dood.”
’n Ooggetuie het aan Paarl Post gesê die eerste bus wat die slagoffer getref het, het glo aangery. “Hulle moes hom daar by die tolhek stop. Ek kan nie verstaan hoekom hy nie sou stop nie. Dit was in daai stadium nog nie so donker nie, so hy kan wil sê dat hy nie gesien het wat dit is wat hy raakgery het nie.”


