Onderwysers betoog teen minder poste in onderwys

Ongelukkigheid oor die beplande besnoeiing van onderwysposte vir volgende jaar duur voort, met onderwysers wat ook hul teenkanting teen die besluit deel.

Onderwysers van Ebenezer Primêr en ander skole in die Paarl het die afgelope Vrydag (13 September) aan ’n betoging in Klein Drakenstein-weg deelgeneem.


Ongelukkigheid oor die beplande besnoeiing van onderwysposte vir volgende jaar duur voort, met onderwysers wat ook hul teenkanting teen die besluit deel.

’n Groep onderwysers van Ebenezer Primêr en ander skole in die Paarl was die afgelope Vrydag (13 September) deel van vreedsame protesoptrede in Klein Drakenstein-weg.

Hul ongelukkigheid volg nadat die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) aangekondig het hy sal volgende jaar altesaam 2 407 onderwysposte moet sny. Volgens die departement sal hy ook nie onderwysers wat op kontrak werk, se kontrakte kan hernu nie.

Dié besluit volg nadat die nasionale regering begrotingsbesnoeiings aangekondig en laat weet het hy sal nie meer die oorspronklike loonooreenkoms nakom nie.

David Maynier, die Wes-Kaapse se LUR vir onderwys, het verduidelik die nasionale regering betaal net 64% van die nasionaal onderhandelde loonooreenkoms. Dit plaas massiewe druk op die WKOD om die oorblywende 36% te finansier. Die tekort kom op R3,8 miljard te staan.

Maynier het vandeesweek ook gesê kritieke leerderondersteunings­programme word as gevolg van die nasionale regering se besluit bedreig.

“Elke provinsie staar ’n fiskale noodgeval in die gesig weens die nasionale regering se besluit. Elke provinsie sal ’n manier moet vind om die enorme koste van die nasionaal onderhandelde loonooreenkoms te dek, wat die nasionale regering gekies het om nie ten volle te betaal nie.”

Volgens Maynier het die WKOD en rolspelers oor belangrike punte ooreengekom. Dit sluit in om skole vir leerders met spesiale behoeftes teen enige besnoeiing van onderwysposte te beskerm, dat finansiering vir leerders se maaltye en vervoer nie verminder sal word nie en dat die departement sal voortgaan om die daaglikse uitgawes van skole te dek.

“Die keuse om die aantal onderwysposte te verminder, was dus ’n onvermydelike besluit,” sê Maynier.

“Dit is hoekom ons saam met ander provinsies veg vir ons onderwysers, om te verseker dat basiese onderwys ’n prioriteit vir Suid-Afrika is. Ons vra politieke leiers, onderwysersvakbonde, aktiviste en ouers om saam met ons te veg, eerder as teen ons, vir basiese onderwys en vir ons onderwysers, sodat ons saam gehalte-onderwys vir elke kind in elke provinsie kan lewer.”

You need to be Logged In to leave a comment.