Die Minnaar-familie is ma Esmé, suster Janay (wat nie die virus het nie), Miley (23 maande) en Shandré.Foto:


WORCESTER – Shandré Minnaar (26), ’n onderwyseres by Hexvallei Sekondêr, is een van die eerste onderwysers in dié streek wat positief getoets is vir Covid-19.

Haar ma en baba van 23 maande is ook positief getoets nadat sy die virus onder lede gehad het.

Standard het Saterdag (30 Mei) berig oor die onderwyser wat positief getoets is en sy het self nadat die berig verskyn het, haar identiteit op sosiale media bekend gemaak.

“Ek voel skuldig en hartseer dat hulle ook die virus opgedoen het. My baba is nog klein en onbewus wat aangaan. My ma se gesondheid is ook nie altyd wat dit moet wees nie, maar ons is almal sterk,” vertel die 26-jarige onderwyser, oorspronklik van Ceres.

Sy sê hulle drink die medikasie wat aan hulle voorgeskryf is en drink warm vloeistowwe, soos deur talle aanbeveel word, maar sy noem dat hul geloof in genesing hulle as gesin deur die moeilike tyd dra.

“Ek het alle voorsorgmaatreëls getref en die feit dat ek dit gekry het, het my laat besef dat enigeen die virus kan opdoen. Dit maak nie saak hoe verantwoordelik jy optree nie, jy kan die virus opdoen en aan ander oordra,” sê Minnaar.

Minnaar vertel die Covid-19-siekte het hulle as familie ontwrig, veral omdat hulle hulself in kwarantyn moes plaas.

“Selfs in my werksplek het dit ontwrigting veroorsaak omdat dit vir my voel asof ek agter raak met my werk. Die angs om met die virus saam te leef, raak party dae ook vir my te veel en dit voel vir my ek is ‘opgesluit’, maar dit is nodig.”

Sy noem verder dit is belangrik vir mense om positief te bly omdat die grendeltyd jou psige negatief beïnvloed.

“God het geweet dat ek nie die pad alleen kon stap nie en my ma en dogtertjie is na toe my gestuur. Al is dit nie ideaal nie, kan ons nou saam teen die virus veg en my baba hou my baie besig. My opgewekte en sprankelende dogtertjie sorg dat ek heeltemal van die virus en situasie vergeet.”

Aan haar kollegas sê Minnaar die “nuwe werklikheid” is belangrik vir onderwysers om leerders steeds veilig te laat voel.

“Ek weet daar is verskriklik baie werk om in te haal en daar is min tyd, maar hou moed. Dit is ons verant­woordelikheid om leerders steeds aan te moedig om hul beste te gee en hulle met hul toekomsplanne te ondersteun.”

Minnaar noem dit is belangrik dat onderwysers met die leerders gesels oor die moontlikheid om die virus op te doen en die situasie met empatie te hanteer sodat leerders selfs emosioneel sterker kan word as hulle die virus kry.

“Covid-19 is ’n werklikheid en die gemeenskap moet besef dat veral met die vlakke wat deur die regering daargestel is, kan ons almal die virus kry. Mense moet hul geliefdes en naasbestaandes in ag neem as hulle gemaklik wil raak. Wees voorkomend,” het Minnaar aan Standard gesê. .Shandré Minnaar is môreaand op KLOP! op kanaal 145 om oor haar Covid-19-ervaring te praat.

You need to be Logged In to leave a comment.