’n Gedig wat uit die pen van die Wellingtonner Jaomi Zeeman gevloei het, het haar ’n vierde plek in die Avbob-gedigtekompetisie verseker.
Volgens Zeeman, wat haar as ’n Wellingtonner in murg en been beskryf, het sy elke jaar die inskrywings van die Avbob-gedigtekompetisie met belangstelling gelees, maar nooit ingeskryf nie.
“Mense se omgaan met hul eie en hul geliefdes se sterflikheid is ’n interessante, universele tema wat ’n mens baie laat nadink – veral ook hoe mense verlies en die rouproses hanteer. Ek het verlede jaar op die ingewing van die oomblik besluit om ’n kort gedig, wat ek ná my oom se dood geskryf het, vir die kompetisie in te stuur. My oom, Willem Buckle, was sy lewe lank ’n visserman en het ná my oupa se dood as seun uit die skool gegaan en voltyds begin visvang om vir sy familie te voorsien. Hy was ’n sout-van-die-aarde-mens en amper meer as ’n broer vir sy jonger sibbe – hy was ’n vaderfiguur, ’n voorsiener en ’n versorger vir sy jonger broers en susters (hulle was 11 kinders!).
“Hy het uiteindelik selfs as skipper met groot skepe na Suid-Amerika gevaar en was legendaries in die Namibiese visvangbedryf. Ek het die gedig eintlik vir my pa geskryf nadat oom Willem oorlede is, omdat ek geweet het dat hy meer as net ’n broer verloor het. Die gedig, “Diepsee in”, groet Oom Willem op sy laaste tog, oor die laaste deining met die soutsproei in sy gesig. Dit is ’n ode aan hom om sy menswees en die betekenis van sy lewe te eer. Ek het geweet dat daar duisende inskrywings vir hierdie kompetisie is en definitief nie ná my inskrywing enige verwagtinge daaroor gekoester nie.”
Vandat sy kan onthou, pen Zeeman al haar ondervindings en gevoelens in die vorm van gedigte neer. Sy sê dis daardie “soort ding” wat in ’n mens se laai by lê. Zeeman erken dat sy soms in haar agterkop wonder of haar skryfstukke die moeite werd is om dit te laat publiseer.
“Partykeer kom die idee van moontlike publikasie by my op, maar dan bêre ek die teks maar weer weg. Miskien, eendag. Ek onthou dat ek baie skaam was nadat my taalonderwyseres op hoërskool eenkeer ’n paar van my gedigte in die jaarblad gepubliseer het. Ek het al hier en daar gedigte vir kompetisies op Litnet ingeskryf en ’n paar gewen. Ek het ook vir my eie kinders gedigte vir voordrag by eisteddfods geskryf omdat hulle nie dieselfde gedigte as al die ander kinders wou voordra nie. Ek was ’n medeskrywer van die Eisteddfodpret 2-digbundel met gedigte en ander tekste vir laerskoolleerders wat aan eisteddfods deelneem. As vryskutskrywer het ek al kopieskryfwerk, taalversorging, vertaling en tydskrif- en reisartikels geskryf en as joernalis het ek vir vier jaar lank weekliks ’n hele koerant van artikels voorsien.”
Zeeman vertel sy was baie verbaas toe sy uitvind dat haar gedig gekies is as een van die top-gedigte in die Afrikaanse afdeling.
“Ek het aanvanklik nie eens geweet ek was een van die wenners nie. My ouers het dit by vriende se verjaarsdagpartytjie by van die gaste, wat dit in die koerant gelees het, gehoor en my daarvan vertel. Die e-posadres vanwaar ek die inskrywing gestuur het, het intussen latent geraak, so ek het nie die kommunikasie gelees nie. Ek was uit die veld geslaan toe ek die nuus kry.”
Die ma van drie dogters is tans ’n gr. 7-onderwyser en onderrig Afrikaans by Hugenote Laerskool op haar tuisdorp. Weg van die skool en wanneer sy nie gedigte skryf nie, hou Zeeman daarvan om te lees en om vertonings en boekbekendstellings by te woon.
“Ek is ’n huishen wat die gelukkigste is wanneer ek by die huis saam met familie vir ’n lekker ete kan aansit.”