Die Hugenote ondersteunersbond (HOB) in vennootskap met die Hugenote Hoërskool en die skool se beheerliggam het op 29 Januarie ‘n semi-permanente tent langs die klubhuis bekendgestel wat ten doel het om ‘n ekstra plek vir leerders, ouers en onderwysers te skep waar hulle kan ontspan.
Dit is nie sommer ‘n hierjy-tent nie en beskik oor ‘n Feit-koffiewinkel asook braaigeriewe. Voor skool sal dit as ‘n plek dien waar ouers, leerders of onderwysers ‘n koppie boeretroos kan geniet en gedurende pouses en sportgeleenthede sal leerders in die skaduwee kan ontspan. Die tent sal ook beskikbaar wees om vir ander geleenthede te huur.
Volgens Dico du Toit, wat self in 1994 by die skool matrikuleer het, is die bekendstelling van dié tent ‘n groot mylpaal vir die HOB en ‘n “simbool van iets groter”.
“Dit is ‘n tasbare simbool van die deursettingsvermoë, visie en betrokkenheid van die HOB se ondersteuners, skenkers en adverteerders. Dit skep ‘n funksionele, uitnodigende ruimte wat as ‘n nuwe tuiste vir gemeenskapsaktiwiteite, sportvieringe en toekomstige uitbreidings dien.”
Du Toit het vertel dat die HOB in sy huidige formaat (wat geregistreer is as ‘n nie-winsgewende maatskappy (NPC) en ‘n openbare Weldaadsorganisasie (PBO) met Artikel 18A-status), vyf jaar oud is. Volgens hom word die HOB apart van die skool bestuur, maar ten bate van die skool, en ondersteun dit die hoërskool se sport-, kultuur- en gemeenskapsaktiwiteite.

“Hierdie projek bou voort op die ontwikkelingswerk wat reeds in 2022 begin is toe die HOB-gebied rondom die braaiplek by die Klubhuis met bydraes van die 2019-matrieks geplavei is. Die voltooiing van die tent bring hierdie langtermynvisie tot vrug,” sê Du Toit.
“Die fisieke werk het op 29 Oktober 2025 begin met die grawe van ‘n sloot vir die nuwe kragtoevoer. Die finale plaveiselwerk en skoonmaak is op 1 Desember suksesvol afgehandel.”
Die HOB sluit in alumni, huidige ouers, onderwysers en “alle belanghebbendes in die groter Hugenote-gemeenskap”.
Du Toit het gesê die volgende projek wat aangepak sal word, is om die klubhuis op te gradeer.
‘n Bykomende projek wat die HOB van stapel gestuur het, behels die Klub1000 met die doel om 1 000 lede vir die HOB te werf, wat elk jaarliks R1 000 tot die verdere ontwikkeling van HOB se infrastruktuur kan bydra.
Teen einde November 2025 het 104 lede reeds by Klub1000 aangesluit.





