’n Glans geldinsamelingsdans – ’n strikdas-en-styl-dans – word 25 Mei in die Krönenburg-onthaallokaal in Paarl-Noord ten bate van Wellington Dierebeskermings­vereniging (DBV) gehou.

Dit beloof om ’n aand van heerlike musiek en danstreffers te wees, te danke aan ’n sewestuk-orkes, ARCO Musica, sowel as ’n DJ vir laataand se losdans-treffers.

Die bekende Paarlse musiekman André Terblanché tree as seremoniemeester op en sal ook ’n liedjie of twee saam met die orkes sing. Die gewilde violis Donné Gough tree ook as gaskunstenaar op.

Arco Musica is ’n gewilde en gevestigde orkes wat landwyd optree. Lede is meesters op elektriese en akoestiese kitaar, tromme, baskitaar, klavier en klawerbord, tjello en saksofoon, met uitstekende sangers en Donné Gough dié aand op viool.

Die dansbaan sal geopen word met ’n spesiale item deur die Phox Dance Academy se dansers.

Sjef Niel van Zyl van Concept Food berei heerlike peuselhappies (canapés) en gourmet-soppe voor, bedien met vars brode en gegeurde botter. Nuca Bakery voorsien die nagereg – soet canapés.

Elke gas ontvang ’n glasie sjerrie met aankoms en daar sal ’n goed toegeruste kontantkroeg wees.

Lootjie-kaartjies sal op die aand te koop wees en gaste sal ’n kans staan om verskillende pryse te wen. Kaartjies vir die aand kos R650, R1 200 vir ’n dubbel­kaartjie en R5 800 vir ’n tafel van tien.

Kom geniet ’n heerlike aand van dans, kos, kuier en mooi musiek ten bate van ’n baie goeie doel.

Skakel 084 626 7434 of epos stella@primaproductions.co.za vir besprekings.

. Twee mense kan elk ’n dubbelkaartjie na die dans wen. Besoek die kompetisie-plasing op DBV se Facebook-blad en like, share en tag twee vriende om in te skryf.

You need to be Logged In to leave a comment.