Gouda-inwoners het Donderdag (23 Mei) toegekyk hoe ’n lid van die Tulbagh-polisie na bewering ’n inwoner doodgeskiet het nadat ’n geskil tussen vroue van dié dorp ontstaan het en die polisie ontbied is.
Volgens Gavin Lakay, ’n gemeenskapsleier van Gouda, het die skietvoorval in Angelierstraat naby die Bakerville Primêre Skool in die teenwoordigheid van skoolkinders uitgebreek nadat die polisie om 10:00 ontbied is.
Met die Tulbagh-polisie se aankoms om die konflik tussen die partye te stabiliseer, het inwoners uitgevaar tenoor hulle, en dit was in dié herrie dat die skietvoorval plaasgevind het.
Lakay het verduidelik daar het ’n meningsverskil tussen “vroumense” ontstaan in ’n gebied wat bekendstaan as “Kersiedorp” of “Mountain View”, waarna dit verskuif het na die gebied bekend as “Onsrus”.
Hier het die polisie na bewering iemand in die agtertuin van ’n woning doodgeskiet.
“Die ou wat doodgeskiet is, se meisie was deel van die bakleiery,” volgens Lakay.
Hy het verduidelik dat die man, bekend as “Jannas”, sy meisie wou beskerm en tussenbeide getree in die geveg tussen ’n groeiende groep gemeenskapslede, wat toe reeds bestaan het uit sowel vroue as mans, waarna hy in iemand se agtertuin ingehardloop het en vermoedelik in die maag geskiet is.
“Die ou [oorledene] het ’n spesifieke polisieman gesien en toe weggehardloop in iemand agtertuin in, waarna hy [na bewering] in die maag geskiet is.”
Volgens Lakay het die oorledene en dié polisieman ’n geskiedenis, en was die oorledene bang vir hom.
Lakay bevraagteken hoekom die Tulbagh-polisie die oorledene in iemand se agtertuin geskiet het nadat hy weggehardloop het en nie meer deel was van die onderonsie tussen gemeenskapslede nie.
In video-opnames wat aan Paarl Post gestuur is, maar te grafies is om met lesers te deel, kan gesien word hoe die man geboei is nadat hy geskiet is, en bebloed in die pad lê terwyl die polisie op die ambulansdienste wag.
In een van die video’s sê ’n polisiebeampte dat die oorledene met ’n rubberkoeël geskiet is, terwyl die gemeenskap die polisie “gangsters in uniforms” genoem het.
Volgens Lakay het die oorledene vir 10 minute vasgeboei op die pad gelê voordat hy oorlede is.
In daardie tyd het sy meisie ook vir ’n tyd ontroosbaar langs hom gelê.
Die nooddienste het eers ná die man se afsterwe by die toneel opgedaag.
Die Tulbagh-polisie het nie op Paarl Post se navrae gereageer nie.
Phaladi Shuping, woordvoerder van die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod), het bevestig dat die skietvoorval ondersoek word.
Paarl Post kon nie die polisiebeampte se naam vasstel nie, nadat Opod sowel as die Tulbagh-polisie nie op dié versoek wou reageer nie.
’n Foto van die beampte is wel aan die koerant verskaf.