Ondernemings in Alkmaarstraat raadop nadat sement stormwaterpype verstop

Afrimat Paarl in Alkmaarstraat. Foto: Jana Scheepers


Die eienaars van talle sakeondernemings in Alkmaarstraat in die Paarl eis antwoorde by Afrimat nadat die stormwaterstelsel in dié straat sedert verlede jaar verstop is weens beweerde nalatigheid van die sementfabriek.

Volgens Tobie Nasenberend, die eienaar van TML Engineering in Alkmaarstraat, was hul perseel wat aan Afrimat grens, gedurende 2024 se winter deurdrenk met reënwater wat nie kon ontsnap nie.

Nasenberend voer aan dat dit weens die stormwaterstelsel is wat blykbaar deur Afrimat Paarl se sementstof verstop is.

Hy het verduidelik dat die reënwater by een van hul store, asook in hul agterplaas, opgedam het.

“Ons het met gumboots rondgeloop.”

’n Deel van TML Engineering se perseel wat gedurende 2024 se winter onder water was. Foto: Verskaf

’n Stoor van TML Engineering wat ook onder water was. Foto: Verskaf

Volgens Nesenberend was die reënwater by sommige plekke hoër as enkeldiepte en moes hulle uit hul motors in die water stap om by die perseel se voordeur in te kom.

Die voordeur is ook waterdig gemaak met ’n plaat wat daarin gemonteer is om die water uit te hou.

Hy voer aan dat die verstopping in die stormwaterpype veroorsaak word deur sementstof wat by die dreine afgespoel of deur die wind ingewaai word en hard word.

Dié foto wys ’n gedeelte van Alkmaarstraat wat in 2024 se winter onder water was. Foto: Verskaf

Volgens hom is dit ’n historiese probleem wat weer in 2024 die kop uitgesteek het.

In die wintermaande veroorsaak dit dan chaos omdat die reënwater nêrens kan ontsnap nie.

Buiten die perseel van TML Engineering word minstens twee ander ondernemings geraak word. Dit sluit in Meadow Feeds Paarl in Westhovenstraat, wat aan Afrimat grens, asook Morletto Trade oorkant TML Engineering.

Hierdie ondernemings se kommentaar sal bygevoeg word sodra dit ontvang is.

Volgens Nasenberend raak dit sy onderneming erg – merendeels omdat die water tot in Alkmaarstraat opdam, wat kliënte se toegang tot die perseel verhoed.

Hy voer aan dat hy sowel as ander sake-eienaars in die straat gereeld met Afrimat in verbinding tree om ’n moontlike oplossing te vind, maar hul pleidooie val op dowe ore.

Volgens Nasenberend is ’n vergadering met die Drakenstein-munisipaliteit (DM) op 29 Januarie gehou. Die munisipaliteit is deur die sake-eienaars betrek om hulle met ’n moontlike oplossing te ondersteun.

“Die Drakenstein-munisipaliteit se stormwaterafdeling is bewus van die situasie en het die stormwaterstelsel in Oktober 2024 ondersoek om die omvang van die skade te bepaal. Die afdeling is reeds in gesprek met Afrimat om die probleem die hoof te bied,” het Louis Pienaar, die munisipaliteit se uitvoerende direkteur van ingenieursdienste, gesê.

Volgens Afrimat is hy bewus van die omliggende ondernemings se klagtes en is hy in verbinding met die eienaars asook die DM.

Sement veroorsaak ’n blokkasie in die stormwaterpype naby Alkmaarstraat. Foto: Skermgreep/ Verskaf

“Hierdie aangeleentheid is onder ons aandag gebring tydens ’n vergadering met die sake-eienaars op 5 Augustus 2024, wat ’n verteenwoordiger van Afrimat op hul versoek bygewoon het. Tydens hierdie vergadering het die eienaars hul kommer oor die toestand van die dreineringstelsel uitgespreek. Afrimat het verduidelik dat dit ’n voorafbestaande kwessie is wat ná die Lafarge-verkryging deur die onderneming geërf is,” sê Tanya Pretorius, ’n woordvoerder van Afrimat.

Sy het ook verduidelik dat ’n diensverskaffer in Oktober 2024 aangestel is om die man-gate waarin van die sementstof blokkasies veroorsaak het, skoon te maak.

“Om die volgende stappe te bespreek, het Afrimat ’n vergadering met die sake-eienaars vir Woensdag (5 Februarie) geskeduleer. Verteenwoordigers van die diensverskaffer en die DM sal ook teenwoordig wees.”

Volgens Pretorius het Afrimat ’n lekplek in een van die fabriek se man-gate in die dreineringstelsel ontdek.

Die probleem is opgelos deur ’n filtersak te installeer.

Pype is ook aangebring om putwater vir gebruik in die sement wat vervaardig word, te herlei.

“Dit het die watervlak in die putte verlaag en die afloop in die stormwaterstelsel uitgeskakel.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article