Miriam Mochologi, die omstrede polisiehoë wat binne tien jaar in die polisiediens tot generaal-majoor bevorder is, is aangewys om van volgende maand as die nuwe bevelvoeder vir die Wynland-distrik te dien.

Genl. Mochologi het in Februarie 2023 die nuus vir die verkeerde rede gehaal te midde van bewerings oor haar bevoegdheid en beweerde gebrek aan vuurwapenopleiding.

Sy was in daardie stadium die distrikskommissaris in die Overberg-streek.

Die bewerings is gemaak in ‘n video deur Ian Cameron, DA LP en voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee oor polisie.

Cameron was in daardie stadium ‘n teenmisdaadaktivis verbonde aan die organisasie Action Society.

In die video het Cameron beweer dat Mochologi haar loopbaan in die polisiediens met die rang van ‘n brigadier begin het, ondanks die feit dat sy in daardie stadium slegs oor ‘n nasionale diploma in openbare skakelwese beskik het.

Cameron het ook verdere bewerings gemaak dat sy, ondanks haar gebrek aan behoorlike vuurwapenopleiding, aangestel is as die hoof van sigbare polisiëring in die Vrystaat.

“Dit is kommerwekkend dat sy nie die basiese opleiding vir polisiebeamptes ondergaan het nie.

“Sy het nie die nodige vuurwapenopleiding voltooi nie, maar daar is dokumente wat aandui dat sy ander vorms van skiet-toetse in 2021 afgelê het.

“Dit is soos om vir jou bestuurslisensie te gaan, sonder om ‘n leerlinglisensie te hê,” het Cameron in Februarie 2023 gesê.

Mochologi het toe ‘n crimen injuria- saak teen Cameron by die Hermanus- polisie aangemeld.

Die Hermanus Times het in Februarie 2023 berig dat Mochologi die bewerings in daardie stadium as “ongegrond” bestempel het.

“Dit sou net nie sin maak dat ek in so ‘n hoë-vlak-amp geplaas word sonder dat ek aan die nodige vereistes en aanstellingskriteria by hierdie hoogs gedissiplineerde organisasie voldoen nie.

“Ek is hier om misdaad te bestry en ek vra vir die gemeenskap se ondersteuning,” het sy in daardie stadium gesê.

Cameron het egter verlede week volstaan by sy bewerings en gesê Mochologi se skuif na die Wynland-distrik verdien ‘n deeglike ondersoek aangesien hierdie distrik “verskeie hoëmisdaadgebiede insluit en sterk operasionele leierskap verg”.

Hoewel hy haar hierdie keer nie by die naam identifiseer het nie, het hy Maandag (24 Maart) in ‘n Facebook-inskrywing na sy video van Februarie 2023 verwys.

“Ons sit met ‘n gebroke stelsel waarin bevorderings gedryf word deur politieke kontakte en nie bevoegdheid nie.

“Polisiebeamptes wat al 20 tot 30 jaar lank misdaad bestry, word oor die hoof gesien ten gunste van individue met beperkte ervaring in operasionele polisiëring,” het Cameron gesê.

Mochologi kon nie verlede week telefonies bereik word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.