Genl.maj. Mzwandile Tiyo, die voormalige Wes-Kaapse misdaadintelligensiehoof wat ook in ’n stadium die bevelvoerder van die Paarl-polisiekantoor was, is amptelik terug in die polisiediens en werk nou in die polisie se Kaapstad-distrik.

Dié nuus is vandeesweek deur lt.genl. Thembisile Patekile, die Wes-Kaapse polisiehoof, onthul nadat Tiyo ’n appèl teen sy afdanking gewen het.

Tiyo is in Augustus afgedank nadat ’n raad van ondersoek belê is om sy bevoegdheid te ondersoek te midde van ’n vlaag bewerings oor wangedrag.

Hy was destyds die misdaadintelligensiehoof in die Wes-Kaap.

Een bewering hou verband met ’n voorval by ’n taverne in Mbekweni aan die einde van verlede jaar toe sy dienspistool en skootrekenaar glo uit sy voertuig gesteel is.

Ingeligtes het beweer hy en twee ander polisiebeamptes het hul ampte en staatshulpbronne gebruik om die “verdagtes” op te spoor, te ontvoer, aan te rand en hulle daarvan beskuldig het dat hulle die vuurwapen en skootrekenaar uit Tiyo se voertuig gesteel het.

Tiyo het blykbaar nooit die diefstal by die polisie aangemeld nie.

Paarl Post het vroeër berig ingeligte bronne het destyds gesê uiters gespesialiseerde toerusting wat selfoonseine kan onderskep, is in die soektog gebruik.

Anroux Marias, die Wes-Kaapse LUR vir polisie-oorsig en gemeenskapsveiligheid, het vroeg vandeesmaand sterk teen Tiyo se moontlike heraanstelling kapsie gemaak. Sy het toe gesê haar departement sal hom selfs na die howe wend oor die nasionale polisie-leierskap se besluit.

“Dit is ’n skandelike stap deur die nasionale leierskap van die polisie. Ons sal al die opsies tot ons beskikking gebruik om die besluit te beveg. Dit sluit per definisie die howe in, indien alle ander opsies nie die korrekte uitwerking sou hê nie.”

Tiyo se regsverteenwoordiger het teen druktyd nie op Paarl Post se navraag oor sy heraanstelling en sy toekoms in die polisiediens gereageer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.