Suid-Afrikaanse wyndruifprodusente verwag ’n goeie, dog effe kleiner 2023-wynoes ná ’n gesonde, maar droë seisoen.

Dít is volgens die eerste van vier wynoesskattings, wat jaarliks deur wingerdboukundiges en produsentekelders uitgereik word.

“In hierdie baie vroeë stadium word die netto afname in die skatting hoofsaaklik toegeskryf aan ’n droër seisoen in al die groeistreke, behalwe vir die Noord-Kaap, wat sy eie moeilike omgewingstoestande tydens en ná die oes gehad het,” sê Conrad Schutte, bestuurder van Vinpro se span wingerdboukundiges wat die oesskattings saam met die bedryfsliggaam, SAWIS, uitreik.

“Swak blom en set in verskeie gebiede, saam met die uitkap van wingerde, het ook bygedra tot die afname in ons skatting vir die 2023-oes.”

In die Noord-Kaap, waar die seisoen gekenmerk is deur ongewoon nat en reënerige toestande, het wingerdstokke op ’n minimale reserwestatus gebot en van die begin af is minder trosse gevorm.

Blare het ook swak gegroei en in sommige gevalle selfs tydelik opgehou groei.

In die res van die streke was blomtoestande goed tot uitstaande. Min siektes en plae het voorgekom, maar die algemene gemiddelde reënval was laer in die meeste streke in vergelyking met die vorige jaar, wat veral in die droëlandstreke ’n invloed op korrelgroottes sal hê en gevolglik die algehele wyndruifproduksie kan beïnvloed.

In intensiewe besproeiingsgebiede soos die Klein Karoo en Robertson het beurtkrag ook groot uitdagings gebied weens besproeiingskedules wat volgens die beskikbaarheid van krag moes verander.

“Die seisoen lyk belowend, maar baie kan verander voordat die parstyd begin,” sê Conrad.

Die volgende oesskatting deur wingerdboukundiges en produsentekelders sal in die derde week van Januarie 2023 vrygestel word.

You need to be Logged In to leave a comment.