Dit het die afgelope week in die plaaslike politieke arena behoorlik gegons toe die DA baie naelskraaps in wyk 17 (Noorder Paarl en die Nieuwedrift-plaasgebied) se tussenverkiesing gewen het.

Hoewel hy steeds in beheer van sake daar bly, het die bloutrein hier geweldig stoom verloor en sy naaste teenstander, die VF Plus, het sy stem dik gemaak danksy ’n reusegroei in ondersteuning uit Noorder-Paarl.

Die stempersentasie was wel laag en dit bly kommerwekkend dat groot gedeeltes van die publiek nie die tyd wil afstaan om hul demokratiese reg uit te oefen deur hul kruisies te gaan trek nie.

In verlede jaar se munisipale verkiesing het net effens meer as 51% van inwoners van die vallei hul stem by die stembus laat hoor.

By Paarl Post stroom daar weekliks, dikwels daagliks, klagtes van die publiek af in oor hul misnoeë oor die Drakenstein-munisipaliteit se dienslewering, of eerder gebrek daaraan.

Dit is juis dan, wanneer dit by die stembus kom, dat die publiek hul stem kan opper oor hoe hulle oor die huidige bedeling voel.

Maar indien die meeste van die publiek soos draadsitters tuis sit en nie hul kruisies wil gaan trek nie, behoort hulle ook nie pal te kla oor wat in hul buurt en elders aan die verbrokkel is nie.

You need to be Logged In to leave a comment.