In ’n intense Sportsmans Warehouse- Premier Interskole Derby dieafgelope Saterdag (10 Augustus) het Oakdale ’n verrassende oorwinning van 21-13 oor Boland Landbou op Die Plaas in Agter-Paarl behaal.
Die wedstryd het vinnig afgeskop met Oakdale wat ’n vroeë verdedigingsfout deur Boland benut het. Oakdale se regtervleuel, Duraan Janse van Rensburg, het ’n riskante aangee diep in Boland se gebied onderskep en ’n drie gedruk, wat hy self verdoel het. Oakdale het binne twee minute ’n voorsprong van 7-0 geneem.
Boland Landbou het egter vinnig teruggeslaan. Hul linkervleuel, Enslin Claasen, het met merkwaardige spoed en behendigheid deur Oakdale se verdediging gesny om ’n briljante individuele drie te druk. Jayden Brits het die skop gemis, maar Boland het gewys hulle gaan nie maklik oorgee nie.
Die moeilike weerstoestande het hantering bemoeilik, maar Brits, Boland se skrumskakel, het ’n langafstand-strafskop oorgeklits om Boland ’n 8-7- voorsprong te gee. Die wedstryd het wipplank gery met albei spanne wat oomblikke van briljantheid getoon het te midde van foute veroorsaak deur die gladde toestande.
Oakdale het weer beheer geneem met ’n drie deur die flank Erick Steyn ná goeie taktiese skopwerk deur die losskakel, Reinhart Viljoen. Oakdale het die voorsprong na 12-8 geneem, maar kon nie ten volle op hul momentum kapitaliseer nie en het ’n strafskop gemis. Boland het hierdie geleentheid benut en volgehoue druk op Oakdale se lyn geplaas, met die heelagter, Retagan van Rooi, wat hul tweede en laaste drie van die middag net voor rustyd gedruk het om die telling na 13-12 in Boland se guns te bring.
Die tweede helfte het begin met Janse van Rensburg wat ’n strafskop oorgeklits het om Oakdale weer aan die voortou te plaas met 15-13. Oakdale se binnesenter, Christiaan Vorster, is na die koelkas gestuur, maar Oakdale het die storm deurstaan. Janse van Rensburg het twee vinnige strafskoppe oorgeklits om Oakdale se voorsprong na 21-13 uit te brei.
Ondanks ’n tweede geel kaart vir Vorster, wat Oakdale weer tot 14 man verminder het, het hul verdediging stand gehou en Boland in die tweede helfte puntloos gehou. Oakdale se taktiese skopwerk en sterk verdediging in moeilike toestande het ’n verstommende oorwinning oor die tuisspan verseker.
Die Sportsmans Warehouse- Speler van die Wedstryd was die Oakdale-flank Erick Steyn.
Puntemakers:
Boland Landbou:
. Drieë: Enslin Claasen, Retagan van Rooi. Verdoelskoppe: Jayden Brits 0/2Strafskoppe: Jayden Brits 1/1
Oakdale:
. Drieë: Duraan Janse van Rensburg, Erick Steyn. Verdoelskoppe: Duraan Janse van Rensburg 1/2. Strafskoppe: Duraan Janse van Rensburg 3/5. Geelkaarte: Christiaan Vorster (2). Rooi kaart: Christiaan Vorster