Die Wêreldrugby-o.20-kampioenskap 2023 skop oor minder as drie weke af op 24 Junie, wanneer dié internasionale rugbytoernooi van die volgende generasie kampioene vir die eerste keer sedert 2019 terugkeer. En dit op Suid-Afrikaanse grond.
Die Junior Bok-groep vir die wêreldwye pronkstuk is Vrydag aangekondig met ’n hele paar jong Paarlse rugbyspelers in sy geledere.
Slegte nuus vir Bolanders is dat die Athlone-stadion in Kaapstad die Boland-stadion in Wellington as een van die drie wedstrydlokale sal vervang.
Die halfeindronde en eindstryd sal nou in dié 34 000-sitplek-stadion in Kaapstad aangebied word.
Op Donderdag 29 Junie kan inwoners van die Drakenstein-vallei wel die Junior Bokke in aksie sien wanneer hulle Italië by Paarl Gimnasium pak.
Oor die spankeuse sê die Bokkies se hoofafrigter Bafana Nhleko hierdie keuse is ’n goeie getuienis van SA Rugby se Elite-spelerontwikkelingsprogram wat vrugte afwerp en hy is baie opgewonde om hierdie spelers in die toernooi op te neem.
“Ek glo ons het ’n gehalte-groep spelers gekies met ’n goeie balans binne die groep. Daar was ouens wat hard gedruk het tydens die SA Rugby Akademie-fase, maar nie die finale groep gehaal het nie, hulle kan maklik inskuif as dit nodig is aangesien hulle ons strukture ken en hoe ons wil speel.
“Ek wil graag die spelers wat gekies is gelukwens, maar beklemtoon ook dat die harde werk nou begin – dit is ’n massiewe taak om in ’n wêreldkampioenskap te speel en nog groter voorreg om tuis te speel; saam met die uitdaging kom ’n groot verantwoordelikheid.
“Ons besef daar sal bykomende druk wees omdat ons tuis speel, maar ons aanvaar dit as positief. Ons het ’n wonderlike geleentheid om voor ons familie en vriende en in bekende omstandighede te speel en ons moet die meeste daarvan maak.”
Die poelrondes van die toernooi vind plaas op 24 en 29 Junie, en 4 Julie, met die twee uitspeelrondes op 9 en 14 Julie, wanneer die eindstryd by die Athlone-stadion in Kaapstad plaasvind.
Kaartjies teen R35 (kinders onder 12) en R55 (volwassenes) is by Ticketmaster beskikbaar.
Plaaslike oud-leerders wat in die Bokkies-span opgeneem is, is:
HS Gimnasium:. Corné Lavagna (MX’21). Corné Beets (MX’21)
Boishaai:. Coetzee le Roux – Slot. SJ Kotze – Haker. Abulele Ndabambi – Losvoorspeler. Hakeem Kunene – Buite Agter