PAARL – Wynliefhebbers kan van nou af die Landskroon-wynplaas, wat onlangs deur Van Loveren oorgekoop is, besoek waar Survivor Wines ook in die proelokaal pronk. Dié handelsnaam is ook onlangs deur Van Loveren gekoop, waarvolgens Landskroon en Survivor die plaas se fasiliteite, insluitend die kelderruimte en botteleringsaanleg, sal deel.
Die plaas op die Suid-Agter-Paarlpad het verlede week hierdie vennootskap amptelik bekengestel en gaste deur ‘n toer van die wynplaas se kelderruimte en bottelerings- aanleg geneem.
Volgens Fanie Geyser, hoofwynmaker van Landskroon, en Pierre Wahl, hoofwynmaker van Surivor, sal die twee handels- name egter nie die druiwe waarmee die wyn gemaak word deel nie en bly die handelsname twee aparte produkte.

Landskroon sal steeds sy druiwe van die Landskroon-plaas oes, bestaande uit ongeveer 100 hektaar wingerd waarvan ongeveer 37 hektaar geoes word, volgens Geyser.
Landskroon voer baie van sy wyne uit na hoofsaaklik China, Tanzanië en Zanzibar, asook Noord-Amerika met onder meer sy Pinotage, Cabernet Sauvignon en Blanc de Noir wat as topverkopers uitstaan.
Survivor se druiwe is afkomstig van die Swartlanddistrik, Elgin, Darling asook die Tradouw-gebied naby Barrydale, het Wahl op sy beurt gesê. Dié druiwe word dan vervoer na Landskroon waar dit in wyn omskep sal word.
Wahl, bekend is as die “Pous van Pinotage”, het verduidelik dat Survivor voorheen deur Overhex besit is, maar dat hy opgewonde is oor wat hierdie nuwe hoofstuk inhou.

Hy het die unieke storie van Survivor Wines se bestaan gedeel en gesê dit het begin met ‘n Ngunikoei wat van ‘n vragmotor afgespring het en op ‘n wynplaas in die Swartlanddistrik te lande gekom het. Daar het die eienaar van die plaas haar “Survivor” gedoop en vandag staan haar dertiende kalfie op Landskroon, nadat dié twee handelsname hande gevat het.
Volgens Geyser is daar nog heelwat planne in die pyplyn om Landskroon as ‘n groter besienswaardigheid te ontwikkel, maar kan daar nog nie veel hiéroor uitgebrei word nie. Landskroon het voor die verkoop van die plaas aan Van Loveren vir vyf geslagte aan die De Villiers-familie behoort, het Paarl Post vroeër vanjaar berig.
Buiten dat ‘n gedeelte van Landskroon op die Suider-Agter-Paarlpad aan Van Loveren verkoop is, is ‘n ander gedeelte van die plaas ook saam met grond op verskeie ander plase in dieselfde omgewing aan die eiendomsontwikkelaar Fijnland Holdings verkoop.
LEES OOK: Nuwe landgoed op pad vir Agter-Paarl
Dié maatskappy beoog om ‘n leefstyllandgoed met die naam Fijnland in hierdie gebied te ontwikkel.
Een van Fijnland Holdings se lede is Martin Venter, ‘n stigterslid van die gesogte Val de Vie-landgoed in die Paarl.


