Carla Viljoen (maatskaplike werker van Helpende Hand), Elma de Jager (ondersteuner), Jalinda de Jager (bestuurder), Alisha de Lange (streekorganiseerder van die Wes-Kaap) en Alet Robbeson (hoof van Ons Winkels), by die opening van Ons Winkel in Wellington.Foto:


Een van Solidariteit Helpende Hand se gewilde liefdadig­heids­­winkels, Ons Winkel, het pas in Wellington in Fonteinstraat 11A oopgemaak en gaan poog om ’n daadwerklike verskil in die gemeenskap te maak.

Jalinda de Jager is die bestuurder van Ons Winkel in Wellington wat deel is van meer as 50 soortgelyke liefdadigheids­winkels van Helpende Hand landswyd.

“Ons sien baie daarna uit om ’n verskil in Wellington se gemeenskap te maak en ons verwelkom alle inwoners met ope arms,” sê De Jager.

Enigiets kan by Ons Winkel afgegee word, van ou klere, meubels, oudhede, kombuisware, beddegoed, gordyne, speelgoed, skoene, sporttoerusting, tegnologiese ware tot enigiets anders wat by die huis in die pad staan.

Ons Winkel neem hierdie goedere en omskep dit in geld wat onder meer vir Helpende Hand se studiefonds benut word. “Helpende Hand se studiefonds bied rentevrye studielenings aan behoeftige studente wat kwalifiseer om verder te gaan studeer, maar nie oor die nodige geld beskik om dit te kan doen nie. Die opbrengs word ook aangewend vir verskeie ander projekte van Helpende Hand wat poog om armoede te verlig, te verbreek en te voorkom en dien ook as werkskepping in die gemeenskap.

“Saam en in ’n japtrap kan ons almal ’n groot verskil in die gemeenskap maak. Stap net by die winkel in en koop of skenk iets. Dit is die geskikte manier om van oorbodige huisware ontslae te raak en te weet dit gaan reg deur Helpende Hand se gevestigde strukture aangewend word om ’n verskil in die gemeenskap te maak,” het De Jager bygevoeg.

You need to be Logged In to leave a comment.