Die Solomons-gesin van links, Boudine Ballem (Brenda), Ilse Klink (ma Jocye), en Tashreeq de Villiers (Gershwin). Foto: Gys Loubser
Die Solomons-gesin van links, Boudine Ballem (Brenda), Ilse Klink (ma Jocye), en Tashreeq de Villiers (Gershwin). Foto: Gys Loubser Credit: Gys Loubser

Die Solomons-gesin sal die jongste toevoeging wees tot al die familiedrama in e.tv. se gewilde Afrikaanse-telenovelle, Kelders van Geheime, wat van Maandag (5 Mei) af sy tweede seisoen begin uitsaai.

Hierdie gewilde sepie word op die geskiedkundige Plaisir-wynlandgoed buite die Paarl verfilm.

Dit is e.tv. se eerste plaaslik vervaardigde Afrikaanse telenovelle en is in Mei verlede jaar bekendgestel.

Ernst Swart, die publisiteitsbestuurder van KFilms, het verlede week eksklusief aan Paarl Post verklap dat kykers hulself kan gereed maak vir ‘n tweede seisoen belaai met drama wanneer die aankoms van die Solomons die donker geskiedenis van bestaande karakters soos Veronique Marais (Rushney Ferguson) gaan uitkrap.

Die Solomons bestaan uit vier gesinslede van “Bergvallei”.

Die veteraanaktrise Ilse Klink, bekend vir haar rolle in 7de Laan, Arendsvlei, Isidingo en Inkaba, sal die rol van Ma Joyce Solomons vertolk.

Haar man, Ivan, word deur Skermgrond se Noel Oostendorp gespeel.

Die rolle van die Solomons-kinders, Gershwin en Brenda, word deur Tashreq de Villiers en Boudine Ballem vertolk.

Dit sal De Villiers, die Kaapse musikant met die verhoognaam Ricky Vani Frontline, se eerste TV-produksie wees. Iets wat baie van sy musiekvolgelinge nie weet nie, is dat hy ook ‘n agtergrond in hoofsaaklik verhoogproduksies het.

De Villiers het al die verhoog met bekendes soos Marc Lottering in die gewilde Aunty Merle, The Musical, wat hom ‘n Fleur du Cap-benoeming besorg het, gedeel.

Hy het ook al saam met bekendes soos David Kramer, Basil Appolis en Taliep Petersen gewerk.

Ballem is ook ‘n gesoute aktrise en was in twee seisoene van Arendsvlei as Ruby Fortuin te sien.

Sy is ook in flieks soos Projek Dina en Tickets te sien.

“Dit is die einste Solomons-gesin wat Veronique via ‘n telefoon-oproep direk met haar ‘Dawn Steenkamp’-verlede gaan konfronteer,” vertel Swart.

“Voordat Dawn Veronique geword het, was daar ‘n hele gesin wat haar probeer mens maak het ná die tragedie van haar kinderdae onder die lyding (of leiding!) van Alistair Steenkamp (Maurice Carpede).

“Die Solomons van Bergvallei druk op Veronique se knoppie wanneer hulle ‘n slegte tyding met haar moet deel en Veronique het geen keuse as om terug te gaan na haar roots toe nie.

“Maar om terug te gaan na jou verlede, terwyl jy in jou hede nog baie aspirasies vir die toekoms het, is nie altyd so maklik nie – veral nie as die verlede nog ‘n sterk houvas op jou het nie.”

Die Solomons-gesin van links, Boudine Ballem (Brenda), Ilse Klink (ma Jocye), en Tashreeq de Villiers (Gershwin). Foto: Gys Loubser
Die Solomons-gesin van links, Boudine Ballem (Brenda), Ilse Klink (ma Jocye), en Tashreeq de Villiers (Gershwin). Foto: Gys Loubser Credit: Gys Loubser

Volgens Swart sal dieper gedelf word in die geheim wat al etlike jare deur Joey Syster (Cedwyn Joel) bewaar word.

“Hy het Octavia al ‘n paar keer daarmee gedreig wanneer sy geliefdes se welstand bedreig is (deur haar woorde en dade), maar hierdie keer kan hy net nie meer op sy tong byt nie – hy voel.

“Gys Delport (Albert Maritz) het die reg om te weet, al beteken hierdie kennis dat die hele Marais-familie van voor af in ‘n kruitvat gaan beland.”

Volgens Swart help die situasie met kleine Charlie Abrahams-Marais ook nie die reeds bestaande spanning op die plaas verminder nie.

Edmund (Duane Williams) sal ‘n besluit moet neem wat enige ouer se hart uitmekaar sal skeur.

Die gevolge van sy besluit raak elke Soebatsklower diep, en party gaan onder die gewig van hierdie hele storie dit net nie meer kan dra of verwerk nie, het Swart verklap.

• Kelders van Geheime word weeksaande om 18:30 op e.tv. en eExtra uitgesaai.

You need to be Logged In to leave a comment.