Nuwe skoolhoof vir Hoërskool Hugenote

Wessel Moolman van die Hoërskool Hugenote op Wellington gaan aan die einde van die kwartaal die tuig as hoof van die skool ná bykans twee dekades neerlê.


Wessel Moolman van die Hoërskool Hugenote op Wellington gaan aan die einde van die kwartaal die tuig as hoof van die skool ná bykans twee dekades neerlê.

Moolman, wat benewens sy onderwyskwalifikasies ’n BCom-graad op universiteit behaal het, het in 1979 begin skoolhou. ’n Raps meer as 19 jaar gelede is hy as skoolhoof van Hoërskool Hugenote aangestel.

Volgens hom het die onderwyswêreld sedert 1979 groot en ingrypende veranderings ondergaan. Skole het meer geïntegreerd geraak, dissipline word in sekere opsigte anders toegepas as dertig, veertig jaar gelede, die manier van skoolhou het deur die koms van nuwe hulpmiddels soos die dataprojektor verander en die infrastruktuur van skole het danksy die bydraes van ouers nie alleen verander nie, maar ook verbeter.

“Ek is dankbaar dat ek deur al die jare ten volle deel van hierdie belangrike veranderings kon wees en deel kan hê en dit by ’n skool soos Hugenote Hoërskool kon help invoer. Hierdie veranderings het groot aanpassings binne die samelewing wat deur die skool be­dien word, gevra en dit het ook baie geverg van die personeel wat daarby moes aanpas.”

Moolman het gesê hy kyk met dankbaarheid terug op sy bykans twee dekades as hoof van dié skool. Dit is ’n gebalanseerde skool wat konstant gehalteleerlinge oplewer. Een van die dinge wat dit vir hom sê is die hoë persentasie oud-leerlinge wat byvoorbeeld primaria by die universiteite word waarheen hulle ná skool gaan.

Moolman is dankbaar dat hy hoof kon wees van ’n skool met ’n toegewyde personeelkorps – mense met dryfkrag ’n passie vir die akademie. Die krag van ’n skool soos Hugenote Hoër lê volgens hom daarin dat dit bestuur word deur ’n span wat nie huiwer om verskillende menings deeglik te toets voordat ’n besluit geneem word nie. Die bestuurspan het ook nooit gehuiwer om landwyd ander skole te besoek om uit te vind hoe probleme daar hanteer word nie.

Hoërskool Hugenote beskik ook oor die dienste van ’n beheerliggaam van gehalte. Die hoof en sy personeel en die beheerliggaam het tot dusver daarin geslaag om mekaar se verskillende terreine waar hulle werksaam is, te respekteer. Die beheerliggaam kon, danksy sy lede, diens van ’n baie hoë gehalte vir die skool en die gemeenskap te lewer.

“Wat die toekoms betref, ná Desember sal ek uiteindelik meer tyd aan my gesin kan spandeer. Ons gaan in Bloubergstrand woon en my vrou en ek beplan om sommer baie te reis. Ek droom al van ’n lekker vaart op ’n passasierskip op die Middellandse See en lekker reise hier in ons eie land en in Afrika.”

Die nuwe skoolhoof wat Wessel Moolman volgende jaar opvolg is Wikus Naudé.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.