’n Nuwe skoolhoof is aan die stuur by die Laerskool Paarl Gimnasium.
Louis Lategan, wat aan die begin van die tweede kwartaal die leisels oorgeneem het, sê hy is baie entoesiasties oor onderwys, en om dit verder met tegnologie te koppel.
Lategan is in Windhoek, Namibië, gebore en getoë. Met albei sy ouers wat ook in onderwys gewerk het, het hy nooit aan sy roeping getwyfel nie.
“Die invloed van ’n ouerhuis het baie te doen met die rigting of beroep waarin kinders gaan. Ek het gesien watter rol my ouers in kinders se lewe gespeel het, en dit is sekerlik die hoofrede hoekom ek in die onderwys is. Ek wil ’n verskil in kinders se lewe maak, dan gaan hulle ’n verskil in ons land maak en dit gaan lei tot ’n verskil in die wêreld.”
Voordat Lategan (55) die onderwys betree het, was hy vir twee jaar in die weermag en hy het ook ’n rukkie by Sanlam in Windhoek gewerk. In 1991 het hy amptelik begin met sy studies by die destydse Onderwyskollege Boland, nou bekend as die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie in Wellington.
“Die vak wat ek die meeste geniet, is aardrykskunde, want die vak leef elke dag en met moderne tegnologie kan ek die kind in die klas figuurlik in die middel van ’n aardbewing plaas. Leer vind vandag baie beter plaas as leerders dit visueel kan ervaar en deel kan voel van gebeure.”
Voor sy aansluiting by Klein Gim vanjaar het Lategan die afgelope vyf jaar ook as skoolhoof by die Laerskool Volschenk in Riversdal gedien. Hy spog in sy tyd het hy dié skool só gelei dat dit vandag een van twee skole in die Suid-Kaap is wat deur die Wes-Kaapse Onderwysdepartement aangewys is as ’n e-leer- transformasieskool. Een van Lategan se doelwitte is dus om “tegnologiese onderwys” by die skool te implementeer.
“Ek is baie entoesiasties oor die onderwys en glo in ’n toekoms vir die jeug. Die laaste twee skole waarby ek betrokke was, het albei uitgestyg wat tegnologiese onderwys aanbetref. Hierby word skermtyd glad nie betrek nie, maar die ontwikkeling van leerders en opvoeders se vaardigheid om e-leer na die volgende vlak te neem. Ek het die voorreg gehad dat my vrou by albei die twee skole saam met my skoolgehou het en met haar tegnologiese kwalifikasies kon ons in albei gevalle die twee skole na die vlak van uitnemendheid neem.”
Sy dryfveer, meen Lategan – as ’n mens en in sy loopbaan –is die feit dat hy homself daarvoor beywer om elke kind in die skool maksimaal te laat ontwikkel volgens die kind se vermoëns.
“Leerders moet ook met die nodige vaardighede toegerus word om die wêreld daar buite met selfvertroue aan te pak. My visie vir die skool is om dit ’n toonaangewende skool te maak op veral tegnologiese onderwys, die skep van geleenthede vir elke kind in die skool en die sterk punte wat reeds in die skool is, verder te versterk en uit te bou.”
Hy voel ook ’n Gimmie-leerder moet buite skoolverband in die dorp herken word deur hoe hy optree – in die manier hoe hulle groet en hul dorp help netjies hou deur nie verby ’n papier te loop nie.
“Verder moet Gimmies ’n innerlike trots op hul skool en taal hê. Gimmies moet karakter hê.”
Lategan voel hy assosieer baie goed met die kultuur en tradisies van Klein Gim, en dis hoekom hy die skool gekies het.
“Van nature het ek ’n innerlike trots in myself in dit wat ek doen en waarvoor ek staan. Verder weet ek die gemeenskap van die Laerskool Paarl Gimnasium is oop vir tegnologiese ontwikkeling, wat ’n groot voordeel is, met die wete dat ons kinders van vandag eendag beroepe gaan beoefen wat nog nie vandag bestaan nie.”
Om ’n noue band te hou met die ouers en ondersteuners van Klein Gim, is een van Lategan se prioriteite.
Hy voeg by alles begin by goeie kommunikasie en wedersydse respek.
“Die verhouding tussen die ouers, personeel en gemeenskap moet van so ’n aard wees dat mense begin praat van ‘ons skool’ en nie ‘die skool’ nie. Met erkenning vir elke ouer en ondersteuner sal ‘ons skool’ baie gouer die algemene spreekwyse raak.”