’n Kaal stuk grond en R10 was jare gelede die grondslag vir ’n kontrak tussen ’n groep bejaardes en die Drakenstein-munisipaliteit en Vrydag 22 September kon die munisipaliteit deel in die sukses met die inwyding van ’n nuwe gebou vir Wellington se Dienssentrum vir Bejaardes.
Die feestelikheid is voorafgegaan deur ’n optog deur Newton se strate van die ou gebou, wat vir jare die senior burgers se tuiste was, tot by die nuwe sentrum waar die burgemeester, Conrad Poole, die amptelike opening behartig het deur ’n lint te knip.
Die kort program, wat deur Aidan Stowman die raadslid van Wyk 11 en die huidige speaker, gelei is, is deur verskeie plaaslike leraars, skoolhoofde, verskeie borge, verteenwoordigers van ander dienssentrums in die distrik en mediese personeel bygewoon.
In sy toespraak het die burgemeester die bejaardes vir hul volgehoue geloof, visie en deursettingsvermoë om die nuwe sentrum tot stand te bring, geloof.
“Ons is waar ons is deur die fondasie wat julle vir ons gelê het. Hierdie gebou is van strategiese belang en moet ’n rimpeleffek in die Drakenstein munisipale distrik hê. Hierdie gebou weerspieël ons droom om eenheid te vestig,” het Poole gesê.
Die dienssentrum sal daagliks gebruik word waar senior burgers deur onder andere dienende leraars, maatskaplike werkers en verskeie kundiges ondersteun word. Dit sal ook as opleidingsplek dien waar verskeie vaardighede geleer en kunsuitstallings van die senior burgers se kunswerke gehou kan word.
Verskeie buitegeboue sal as veilige hawe dien vir gesinne wat aan trauma blootgestel is. ’n Kort skriflesing en boodskap is deur ds. James Fredericks van die Calvyns Protestante Kerk gelewer en die oudskoolhoof, Henry Opperman, het die bedankings gedoen.