Motoriste wat gereeld van die R44, oftewel die Hermon-pad, tussen Wellington en Hermon gebruik maak, is ontnugter oor die nuut geverfde lyne wat kronkelrig vertoon.
Die lyne is sowat ’n week gelede geverf, sê Stephan Landsberg, ’n Wellington-raadslid.
Die Paarl Post het die afgelope Vrydag (30 Augustus) ’n navraag aan die provinsiale departement van infrastruktuur gestuur met navrae oor dié lyne, en met verdere ondersoek vasgestel dat die verkeerslyne ’n dag later (op Saterdag) oorgeverf is.
Die stand van sake is ook deur Jandré Bakker, ’n woordvoerder van die departement van infrastruktuur, aan die koerant bevestig.
“Die padmerke was nog nie afgeteken nie omdat dit nie aan die standaarde van die departement voldoen het nie, [maar] dit is later reggestel [oorgeverf],” volgens Bakker.
Ander vrae wat aan die departement gerig is, sluit in:
- Wie was die kontrakteur aan wie hierdie tender toegeken is?
- Wanneer is die lyne geverf?
- Hoekom is die lyne geverf?
Die vrae bly egter onbeantwoord.
Volgens Landsberg is slegs die wit lyne in die middel van die teerpad oorgeverf, terwyl die geel lyne aan beide kante van die pad steeds kronkelrig vertoon.
Hy het verduidelik dat die verkeerslyne vaag vertoon het. Gevolglik is nog ’n laag verf aangewend.
’n Gedeelte van beide die Bo-Dal-pad asook Stokeryweg is ook oorgeverf, met die lyne wat op beide paaie kronkelrig vertoon. Volgens Landsberg is dit nog nie reggestel nie.