Drie jaar na Voor-Groenberg Primêr deur die WKOD gesluit is, gee The Sprouts die skool nuwe lewe

Lede van The Sprouts Organisation (TSO) toon hul opgewondenheid saam met plaaslike rolspelers oor die skool se toekoms. Van links is Bernice Malan saam met Francois Theron, Stephan Landsberg, Nadia Retief en Zaid Israel.Foto: Heleen Rossouw


Die verlate, stil skoolgebou van Voor-Groenberg Primêr in Wellington kry saam met die lenteseisoen groen bloeisels van hoop vir dié landelike gebied se kinders, danksy The Sprouts Organisation (TSO).

TSO is ’n organisasie wat sy ervaring, omgee en pogings aanwend vir die welsyn, verstand en toekoms van kinders van die gebied.

Dié organisasie sonder winsbejag het verlede Donderdag met Wellington-polisiebeamptes, proporsionele raadslid Stephan Landsberg en Francois Theron van die Wellington Aksie Facebook-groep (WAG) op die skoolterrein byeengekom om bystand te lewer vir die beplande heropening van die skool.

“Ons doel is om in Januarie die skool se deure oop te maak, maar ons moet eers herstelwerk doen om dit as ’n plek van veilige onderrig in te rig,” sê Zaid Israel, die portefeulje-direkteur vir finansiering.

Buiten deurhandvatsels, watertoevoer, lang gras, die dak en geute wat aandag benodig, is die skool se verlate toestand nie net negatief nie. Die meeste vensters is nog heel, behalwe vir die stopverf wat vervang moet word, en die gebou het nog krag.

Die NPC se span fokus nou daarop om plaaslike borge en ondersteuning te werf om al die opknapping wat die terrein benodig te verrig.

Dit volg ná maande van beplanning, vernuf en passie van twee plaaslike vroue, Bernice Malan en Nadia Retief, wat die organisasie in 2021 gestig het.

Malan en Retief spesialiseer in vroeë-kinderontwikkeling en spesiale behoeftes van laerskoolleerders en gemeenskapsontwikkeling.

“Ons dienste en holistiese benadering voorsien kinders van gemarginaliseerde gemeenskappe die geleenthede om holisties te ontwikkel met gespesialiseerde ondersteuning, nie net vir hulself nie, maar hul ouers en die gemeenskappe wat hulle omring,” verduidelik Retief.

Op haar beurt vertel Malan: “Ons dienste spreek tot die strategiese fokusareas soos geïdentifiseer deur ons behoeftebepaling van hierdie gemeenskap en voorsien hulle van deurslaggewende dienste, hulpbronne en ondersteuning.”

Die organisasie se strategiese fokusareas leen hom daartoe om vroeë-kinderontwikkelingsdienste en naskool­dienste vir gr. R tot gr. 7 van die plaasgemeenskap te voorsien.

Twee toekomstige leerders wys hoe opgewonde hulle oor die skool is.

Medium- tot langtermynbeplanning strewe daarna om opleiding en vaardigheidsontwikkeling vir die breër gemeenskap te voorsien.

Die organisasie en elke liewe hand wat hulp aanbied sal die jare lange leemte van Voor-Groenberg Primêr, wat in Februarie 2021 deur die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) gesluit is, die broodnodige aandag gee ten bate van die kinders in die landelike gebied.

Een van die redes waarom die WKOD destyds Voor-Groenberg Primêr gesluit het, is omdat minder as 40 leerders glo by die skool ingeskryf is en die skool slegs voorsiening vir graad 1 tot 3 gemaak het.

Nog ’n rede was dat geen verdere aanduidings gegee kon word dat die leerdertal in die nabye toekoms sou toeneem nie aangesien baie ouers na die dorp verhuis.

Paarl Post het vroeër berig die destydse skoolbeheerliggaam (SBL) het kapsie teen die departement se besluit gemaak in ’n brief wat aan die WKOD gestuur is.

Die SBL-voorsitter, Gresswin Ludick, sê hulle het aan die WKOD uitgewys die skool het 63 leerders van graad RR tot gr. 3 gehad, en nie 34 leerders nie.

Ten spyte daarvan word ’n nuwe prentjie van dié skoolterrein geskets. TSO het onlangs ’n skoonmaak-operasie met ouers, wat voormalige leerders aan Voor-Groenberg Primêr was, by die skool begin.

“Dit was so kosbaar hoe opgewonde dié ma’s was om die gemors op te ruim nadat dit só lank toe gestaan het, aangesien hulle self destyds hier skoolgegaan het. Dit is ouers soos hulle wat daarna uitsien om hul kinders na dié skool te stuur,” vertel Malan.

Voormalige leerders wat vandag moeders in die Voor-Groenberg omgewing is, het hul hande vuilgemaak om hul eie kinders by die skool in te skryf.

Diegene wat die vergadering bygewoon het, is toegewyd om alle moontlike hulpbronne tot dié NPC se beskikking te stel.

“As plaaslike sakelui hierby kan aansluit om vir ons hulpbronne of dienste te borg, sal ons die 2023-doelwit kan bereik om kinders in die gemeenskap te kan onderrig,” lui Israel se pleidooi.

Vir meer inligting en om by die projek ’n bydrae te lewer, kontak Bernice Malan by 083 463 2551 of Zaid Israel by 082 465 5990.

You need to be Logged In to leave a comment.