Lionel Hugo (links), een van die direkteure van Blignaut Park buite Wellington en Schalk Crouse, bestuurder van die nywerheidspark, in die gebou wat die eerste 198 mini-stoorkamers huisves wat in die park gehuur kan word. Talle meer stoorkamers is tans in aanbou om in die groeiende vraag na stoorplek te voorsien. Foto:


Die tamaai Colibri-tekstielfabriek was vir baie jare een van die grootste fabrieke in Wellington se nywerheidsgebied. Die fabriek is egter enkele jare gelede saam met al die land se ander tekstielfabrieke gesluit toe Suid-Afrika se tekstielbedryf deur oorsese mededinging tot stilstand gedwing is.

In 2014 het ’n groep Wellingtonse sakemanne Colibri se leë fabrieksgeboue oorgeneem en begin om dit in Blignaut Park, ’n splinternuwe nywerheidspark, te ontwikkel.

Volgens Schalk Crouse, bestuurder van Blignaut Park, beslaan die geboue in die nuwe nywerheidspark altesaam 26 000 m². Dit sluit die destydse leë fabrieksgebou in en ook nuwe geboue wat in die jongste tyd daar opgerig is.

“Ons huisves tans ’n wye verskeidenheid nywerhede in ons geboue. Dit sluit in kunsmisverspreiders, ingenieurswerkswinkels en tientalle ander ligte nywerhede. Die fabriekstelle wat ons beskikbaar het, is feitlik almal beset want daar was ’n groot tekort aan persele vir ligte nywerhede in Wellington.

“’n Ander deel van die geboue word opgeneem deur mini-pakstore wat ons aan sake-ondernemings en privaat persone verhuur. Hierdie store wissel in grootte van 6 m² tot 36 m². Ons het ’n nuwe gebou opgerig om hierdie store te huisves. Tans is daar 198 sulke stoorplekke beskikbaar maar ons is nog steeds besig met die bouwerk. Daar sal binnekort 225 store beskikbaar wees en ons mik daarna om uiteindelik altesaam 425 beskikbaar te hê. Onder die nuwe store sal daar enkeles wees wat van 100 tot 1 000 m² pakplek sal bied.”

In Blignaut Park is ook ’n groot area wat met veiligheidsheinings omring word. Dit bied netjiese, veilige stoorplek onder skadunet vir woonwaens, bote en ander voertuie.

Lionel Hugo, een van die direkteure van Blignaut Park, sê dat hy en sy mede-direkteure glo dat ’n nywerheidspark soos Blignaut Park ’n belangrike rol kan speel in die toekomstige groei van Wellington.

“Dit gaan egter nie net oor die groei van die dorp nie, ons wil veral ook Wellington se sakemanne help om te groei en om hul ondernemings hier te laat vooruitgaan. Ons doen byvoorbeeld baie moeite om dit vir ondernemings wat BEE-geregistreer is om te groei en te ontwikkel en sodoende nuwe werksgeleenthede vir tientalle mense te skep.

“Ons sorg ook dat hier elke dag van die week vir 24 uur helpers beskikbaar is om mense te help om maklike toegang tot hul fabriekspersele of stoorplekke te kry en ons het ook te alle tye hulpmiddels soos drie vurkhysers beskikbaar om huurders met die op- en aflaai van hul goedere te help.”

Blignaut Park beskik oor ’n uitgebreide sekuriteitstelsel, 24 uur beman deur deeglik opgeleide sekuriteitspersoneel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article