Die geskiedkundige herehuis van Kleinbosch Augusta voordat dit deur die 2017-brand in puin gelê is.


In Januarie 2017 is grootskaalse verwoesting in die geskiedkundige plaasgebied van Dal Josafat en Klein Drakenstein gesaai toe ’n bergbrand verskeie historiese plaasopstalle, insluitend die gastehuis en restaurant Augusta Kleinbosch, in puin gelê het.

Augusta Kleinbosch se 232 jaar oue herehuis en buitegeboue is verwoes. Ook reg oorkant Augusta is die wynkelder, proekamer en kothuise op die ewe geskiedkundige wynplaas Druk My Niet verwoes en groot skade is aan die wingerde aangerig.

Sedertdien is Druk my Niet ten volle herbou, maar Augusta Kleinbosch is so te sê verlate gelaat deur sy Duitse eienaars ná die brand.

’n Deel van die opstal, die Hugenote Gedenkskool – ’n baie belangrike baken van die Afrikaanse taal omdat dit die eerste Afrikaanse skool in Suid-Afrika was – is wonderbaarlik ongeskonde gelaat in die brand.

Augusta Kleinbosch was onder meer die grootwordhuis van die digter en skrywer Totius en was ’n gastehuis en restaurant wat vernietig is.

Dié oorspronklike Hugenote-plaas, wat in 1692 aan François du Toit uitgegee is, is ook die bakermat van Afrikaans, die Afrikaanse drukkers- en uitgewerswese, asook die georganiseerde wynbedryf.

Die ou plaasopstal het bestaan uit die Kaaps-Hollandse herehuis, wat in 1792 bo-op die fondasie van die eerste gebou is, die Victoriaanse Malherbe-huis met ’n anneks wat vroeër die slawekwartier, waenhuis en stalle was, die Gedenkskool der Hugenoten, wat in 1882 deur die Genootskap van Regte Afrikaners opgerig is op die plek waar die eertydse wynkelder was, sowel as die familiebegraafplaas, ’n verklaarde gedenkwaardigheid.

Die taalpionier en Bybelvertaler ds. S.J. du Toit is in die herehuis gebore asook daarin oorlede. Sy jongste seun, Jacob Daniël (die latere teoloog, Bybelvertaler en psalmberymer Totius), het op die plaas grootgeword en was ’n leerling van die Gedenkskool.

Sy mede-taalstryders A.G. Visser en D.F. Malherbe was skoolmaats, asook Abraham Izak Perold, latere grondlegger van die KWV, en verskeie ander mense wat betekenisvolle baanbrekerswerk in die land verrig het. Boonop het die Afrikanerbond, Die Patriot (wat gelei het tot die geboorte van Paarl Post), Ons Klyntji sowel as die Eerste Taalbeweging en die Tweede Taalbeweging hul ontstaan hier gehad.

Die Gedenkskool is in 2001 onder leiding van die Kaapse bewaringsargitek Gawie Fagan gerestoureer met die hulp van ’n groot skenking van Naspers en Die Burger.

In die ommuurde begraafplaas, binne stapafstand van die opstal, rus die oorskot van verskeie Hugenote-nasate sedert 1734, soos die Du Toits (onder andere ds. S.J. du Toit en sy oudste seun, David, wat weens ’n bysteek in die Gedenkskool gesterf het), Rousseaus (Rossouws), Malans, Perolds en Retiefs (onder wie die Voortrekkerleier Piet Retief se suster Martha).

Maar nou word intensiewe restourasiewerk en herbouiing aan hierdie landgoed gedoen, wat volgens inligting deur die mediareus en entrepreneur Koos Bekker gekoop is. Bekker is ook die eienaar van die geskiedkundige plaas Babylonstoren in Simondium, wat met groot sukses in ’n wynland-toeristebe­stemming omgeskep is en bekend is vir sy vrugte- en groentetuine, unieke verblyf, lekker kos en wyn, restaurante, wynkelder en dies meer.

Met die voltooiing van die restourasie van die plaas sal dit in ’n toeristebestemming omgeskep word, wat gefokus sal wees op die geskiedenis en historiese waarde van die vallei. ’n Kommersiële segment sal ook ingesluit wees, soos ’n restaurant en winkels.

You need to be Logged In to leave a comment.