Die splinternuwe Gouda-kliniek het op Vrydag 1 Desember sy deure in Malvastraat geopen.

Pasiënte kan die kliniek Maandae tot Vrydae tussen 07:30 en 16:00 besoek (openbare vakansiedae uitgesluit) vir omvattende primêre gesondheidsdienste soos moeder- en kindergesondheid, ondersteuning vir kroniese toestande, asook mans- en geestesgesondheid.

Volgens Sandra Maritz, kommunikasiebeampte in die Kaapse Wynland-distrik vir Wes-Kaapse gesondheid, het die boukoste van die nuwe kliniek bykans R18 miljoen beloop.

Maritz verduidelik dat die kliniek meer ruimte het, wat insluit vier konsultasiekamers, ’n aparte gebied vir dienste aan vroue en kinders en ’n aparte deel vir die versorging van wonde.

Daarby is omstandighede beter gepas vir infeksiebeheer en is daar meer toilette. Die kliniek beskik ook oor die jongste toerusting en die gebou is beveilig.

Pasiënte kan bekende gesigte by die nuwe kliniek verwag. Sr. Cynthia Johannes en haar span, wat by die vorige kliniek gewerk het, het na die nuwe kliniek oorgeskuif.

“Dit is ’n geskiedkundige oomblik!” sê Sr. Johannes.

“As personeel voel ons bevoorreg om pasiënte met meer waardigheid te kan bedien. Ons vertrou die gemeenskap sal met ons hande vat om dit op te pas.”

Volgens Maritz moet inwoners, soos voorheen, na-ure, in geval van nood, of om die lewe te skenk na die Lapa Munnik-hospitaal gaan.

Die amptelike opening deur die Wes-Kaapse minister van gesondheid volg vroeg in 2023.

Die kliniek se telefoonnommer is steeds 023 232 0510.

You need to be Logged In to leave a comment.